Deel die artikel met jou vriende:

Tydens verlede jaar se KragDag ekspo het ‘n paneelbespreking in die Raadsaal plaasgevind waartydens  daar besin is of die 4de Industriële revolusie ons vriend of ons vyand is. Een siening was dat tegnologie, veral digitale tegnologie, dinge beter maak, meer effektief maak en dat dit vir mense die lewe meer gemaklik maak. ‘n Ander siening weer was… wees versigtig, weens natuurlike en energiebeperkings kan mens nie altyd daarop reken dat mense se lewens deur nuwe tegnologie verbeter sal word nie. ‘n YouTube video, ingebed hieronder, wat handel oor die gebruik en aanwending van ‘n sogenaamde sosiale krediettelkaart deur die Sjinese regering het intussen onder my aandag gekom. Dit dui op ‘n definitiewe donkerkant van tegnologie. Gedurende hierdie jaar se Raadsaalprogram het Dawie Roodt ook terloops hierna verwys.

In óns banksake is ons deesdae pynlik bewus van die aanwending en gebruik van ‘n krediettelkaart deur banke en ander finansiële instellings. ‘n Krediettelkaart is ‘n datagedrewe wiskundige model wat op ‘n rekenaarstelsel geïmplementeer is, wat kwantitatiewe berekenings doen ten einde te bepaal wat die waarskynlikheid is dat ‘n kliënt ‘n sekere tipe gedrag sal openbaar soos byvoorbeeld ‘n bankrotskap, of die wanbetaling van ‘n lening.  Die waarskynlikheid van die kliënt se gedrag word bepaal op grond van die kliënt se historiese gedrag en ook ander insette. Elke kliënt het ‘n sekere krediettelling (credit score) wat ‘n aanduiding is van die kliënt se kredietwaardigheid en of daar ‘n lening aan hom of haar toegestaan kan word óf nie. Jong mense het moeite om ‘n lening te kry en moet ‘n bewuste poging aanwend om ‘n kredietrekord te bou. Ander mense weer word daagliks geteiken met uitnodigings om lenings by finansiële instellings op te neem weens hulle goeie krediettelling.

Ouer lesers sal sekerlik kan onthou hoe daar vroeër jare na die bankbestuurder by jou naaste banktak gegaan is om aansoek te doen vir ‘n banklening. Jy het hierdie “tradisionele” bankbestuurder geken as ‘n mede-ouer by die skool of as ‘n medelidmaat by die kerk. Nadat daar met hom gesels is, het hy die besluit geneem of ‘n lening toegestaan sal word of nie. Hoe het dinge nie verander nie! ‘n Tradisionele bankbestuurder is nie meer by jou banktak te vinde nie. As jy aansoek doen vir ‘n lening word dit rekenaarmatig gedoen en die besluit word op grond van jou krediettelling gedoen. ‘n Kredietbesluit is dikwels binne enkele minute na ‘n aansoek beskikbaar.

‘n Uitbreiding op hierdie telkaartbeginsel op grond van mense se gedrag word tans eksperimenteel in Sjina geïmplementeer, waar elke inwoner se beweging, asook sy doen en late dop gehou word. Met behulp van soveel as 200 miljoen kameras, toegerus met uiters gesofistikeerde spioenasiesagteware, wat regoor Sjina versprei is, word elke inwoner intensief dopgehou. Data en inligting oor wat elke persoon sê, wat hulle doen, en selfs wat hulle moontlik dink word sistematies vergaar en gestoor. Gelaatsherkennings-, liggaamskanderings- en geo-volgingsinligting word met persoonlike inligting verbind en tesame met inligting oor aanlyn-gedrag gebruik om ‘n Sosiale krediettelkaart vir Sjina se 1,4 miljard inwoners op te stel. Op grond van ‘n persoon se sosiale telkaart is hy of sy geregtig op sekere voorregte óf word sekere beperkende maatreëls ingestel. Daar is ook ‘n noue verbintenis met ‘n persoon se finansiële gedrag in terme van wat gekoop en verkoop word asook die nakom van finansiële verpligtinge soos terugbetaling van lenings en die indiening van belastingopgawes. Tereg word gesê dat “die stelsel sal betroubare mense toelaat om vrylik onder die hemel te beweeg terwyl dit vir die gediskrediteerdes moeilik is om selfs ‘n enkele tree te kan neem”. In die video word drie gevallestudies voorgehou:

  1. Fan Dandan is ‘n jong getroude Sjinese vrou wat ‘n jong seun het. Sy is baie patrioties en positief oor dié sosiale telkaarttegnologie. Dandan is ‘n modelinwoner en het ‘n baie hoë sosiale telling wat dit vir haar baie voordelig en gemaklik maak om in Sjina te leef. Dat elke aksie wat sy neem gevolg en beoordeel word is vir haar heeltemal aanvaarbaar omdat elke land immers ‘n veilige en stabiele gemeenskap wil hê. Haar kriminele, akademiese en mediese rekords, tesame met haar sekuriteitsbeoordeling deur die staat, vorm deel van haar sosiale telling. Haar sosiale telling word ook intyds aangepas afhangende van byvoorbeeld haar aankoopgedrag in terme van wat sy in haar inkopiewaentjie plaas. Koop sy baie alkohol word afhanklikheid gesuggereer en verloor sy punte. Sou sy babadoeke koop word verantwoordelikheid geïmpliseer wat weer haar telkaart laat styg. ‘n Láát betaling van ‘n finansiële verpligting of ‘n láát indiening van ‘n belastingaanslag laat haar ook drasties punte verloor.

Dandan kan haar sosiale telling op haar slimfoon monitor. In die onderhoud word getoon hoe trots sy op haar telling is. Vir haar hou ‘n hoë telling definitiewe voordele in as sy ‘n motorvoertuig wil aankoop, hotelverblyf reël of ‘n huis huur. In haar vriendekring, wat deel van die Sjinese middelklas vorm, word elkeen se telling met mekaar vergelyk. Moontlikhede word ook geskep dat haar en haar vriende se telling vir mekaar sigbaar is. Gesamentlike voordele om aan sekere toepassings deel te hê kan ook tussen vriende gedeel word. Op dié wyse word groepsdruk aangewend om die stelsel te verskans en aanvaarbaar te maak.

Met wie jy uitgaan en uiteindelik ‘n verbintenis aangaan word, word ook gemonitor en het ‘n invloed op ‘n persoon se sosiale telling. Dandan se man is ‘n staatsamptenaar en ‘n lojale kader van die regerende party. Sy sosiale telling is selfs nog hoër as hare. Hý vind die sosiale kredietstelsel ook baie aanvaarbaar. Op die wyse moet die Sjinese nasie mekaar help, liefhê en welvarend maak. Só, aldus president Xi,  kan almal “ryk, demokraties, kultureel, harmonieus en aantreklik” leef. Die ouerpaar se seun kry ook baie opvoedingsvoordele as gevolg van sy ouers se hoë sosiale telling.

  1. As teëkant van hierdie munt word die situasie van Leo Hu, ‘n ondersoekend joernalis wat op amptenare van die regerende party se liddorings getrap het, onder die loep geneem. Hy is een van 10 miljoen mense wat met die donkerkant van die sosiale telkaart te doen gekry het. As joernalis het hy hoëvlak korrupsie en moordsake wat die polisie nie kon of wou oplos nie blootgelê. Nadat hy ‘n lastersaak verloor het teen ‘n regeringsbeampte, wat hy van afpersing beskuldig het, moes hy om verskoning vra en ‘n boete betaal,wat hy ook gedoen het. Hu het egter geweier om ‘n addisionele fooi te betaal wat die hof hom opgelê het. In 2017 het hy agtergekom dat hy uit die gemeenskap verban is, omdat hy vir oneerlikheid geswartlys is. Daar was vir hom geen manier waarop hy dit kon betwis of omkeer nie. Sy swak sosiale kredietgradering het sy reisopsies tot niet gemaak en hom vir alle praktiese omstandighede onder huisarres geplaas. Hy kan glad nie ‘n plek op ‘n hoëspoed trein of ‘n vliegtuig bespreek nie. Verder is sy werk as joernalis ingeperk deurdat sy sosiale media rekeninge gesluit is. Die moontlikheid om vir sy volgelinge op sosiale media te publiseer is daardeur onmoontlik gemaak.
  1. In die laaste gedeelte van die video word getoon hoe selfs etniese minderheidsgroepe in Sjina met behulp van tegnologie ingeperk word.

 

Hierdie video het ons ‘n kykie gegee hoe ‘n wêreld lyk waar Ouboet jou dophou. Sekerlik kan ons die vraag vra of hierdie eksperiment in hoë-tegnologie sosiale-ingenieurswese slegs tot die Sjinese bevolking beperk is? Baie dinge dui egter daarop dat hierdie ‘n wêreldwye verskynsel geword het. Dit is nie meer mense met verstand, rede en emosie wat ander mense dophou nie. ‘n Digitale totalitêre staat is wêreldwyd besig om stadig nader te kruip, ook in Suid-Afrika. Koue, gevoellose, onemosionele, maar… berekende sagteware algoritmes is besig om jou lot te bepaal waar jy niks en niemand mag of kan bevraagteken nie.

Erkenning vir inleidingsprent: https://www.ft.com/content/99165d7a-1646-11e8-9376-4a6390addb44

 

5.00 avg. rating (92% score) - 1 vote