Deel die artikel met jou vriende:

Die gedagte om vrugte, groente en in die algemeen, verskillende voedselsoorte te preserveer is ‘n eeue-ou gedagte, wat jare terug al byna vervolmaak was. Vandag egter, is baie van hierdie kennis vergete of verlore, soos wat ons ekonomie en kooppatrone verander het in die huidige era van moderne winkelkomplekse en ‘n winkel op elke hoek. Verder het mense verander – wat in die verlede belangrik was, is nie meer die geval nie. Voorwaar, die 21ste eeu het ons styf in sy greep!

Aanvanklik was die idee om voedsel te preserveer in die tyd wanneer dit vollop was, sodat dit in maer jare of skaars tye gebruik kan word … soos die geval was met Josef en ook Salomo se mier in Bybelse tye. Hierdie gebruik het grootliks in die moderne tyd verdwyn, maar ons kan ons indink dat dit baie gou weer ons voorland kan wees.

Om mango en groente atjar te produseer, is wat die Jensenfamilie al reeds die afgelope 40 jaar doen. Jare gelede het ons ‘n mangoplaas in die Levubu-vallei in die destydse Noord-Transvaal gehad. My ouers was vasberade om die varsvrugte-uitvoermark te betree en het amper net soveel geld gaan leen as wat die grond werd was, om drupbesproeiing te installeer – die nuutste tegnologie van 1975 is gebruik. Uitvoerpryse sou verseker dat die lening terugbetaal word en dat hulle sou kon vooruitgaan. Maar, nou ja, dinge het toe anders verloop as wat die familie beplan het.

Daar is besproei, gif gespuit en elke jong vruggie is byna handgrootgemaak, todat een middag, toe die hele oes, ongeveer ‘n 70% uitgesit was – nog lekker groen en hard en klaar gevorm – op die grond gelê het na ‘n verwoestende haelstorm.

Ons gemoedere was op ‘n laagtepunt. Die man van die bank in sy swart pak het reeds met ‘n sak vol penne voor die plaashuis se hekkie rondgestaan. Weghardloop was sekerlik ‘n opsie, maar ma het vasgesteek … iewers het sy ‘n resep van ouma gehad vir groen ingelegde mango. En … daar het alles begin. Die afgeslaande mango’s is opgetel, aangedra en aangery grasperk toe. Voor die plaashuis was daar kort voor lank ‘n berg groen mango’s. Almal, van groot tot klein moes inspring en het laatnagte gewerk om die mango’s met die hand op te sny, voordat dit kon kans kry om pap te word of om te bederf. Die kleiner kinders was verantwoordelik om die berg groen mango’s nat te hou sodat dit nie te warm word in die Noord-Transvaalse klimaat nie om sodoende vinniger te bederf nie.

Uit hierdie totale ramp en met ouma se resep het massiewe besighede ontstaan met name soos Mango Man, Big Six, CAPU en vele ander wat deur die jare geïnkorporeer is by maatskapye soos Robertson Spice, National Foods en ander. Baie van die produkname, of kan mens sê “Brand Names” is vandag nog beskikbaar. Die nuutste naam waaronder die familieproduk verkoop word heet CAPU Achaar. Dit is verkrygbaar in winkels soos Spar en Shoprite. Jy sal waarskynlik op baie ander plekke daarvan kan eet sonder dat jy weet waar dit vandaan kom, soos by Chicken Licken of dalk in ‘n Pick & Pay se “House Brand”.

Ons verpak ons produkte in plastiese sakkies, emmers en glas bottels. Alhoewel ‘n geblikte verpakking moontlik is, voel ons dat dit nie higiënies is nie en daarom vermy ons dit. Ons produksie-volume wissel van jaar tot jaar, maar ons het al soveel as 5000-ton Mango Achaar in een jaar geproduseer en bemark. Preservering van die produk is van kardinale belang vir die sukses van ons besigheid – groen mango’s is net twee maande in ‘n jaar beskikbaar. Dit is dán nodig om genoeg te preserveer sodat jy genoeg het om gedurende die hele jaar aan die mark te voorsien. Maar jy weet mos…dis een ding om ‘n koek te bak, maar ‘n ander saak om daardie koek te verkoop.

Dit bring my by die beginsel van preservering rondom doen-jou-eie-ding. Jy kan maklik deur die jaar genoeg vrugte en groentes op klein tot groterige skaal preserveer of inlê vir huishoudelik verbruik. Deur ‘n paar sommetjies te doen kry jy gou ‘n idee van die omvang waarin jy moet voorsien.

Gestel ons werk op vier lede in ‘n huisgesin wat almal atjar eet. Gestel ons laat toe dat daar een persoon per dag by ons kom kuier. Ons benodig dus vyf porsies atjar per dag. As ons sou werk op omtrent 100g per porsie beteken dit 500g atjar per dag. Daar is 365 dae in die jaar – dus vir ‘n jaar se voorraad moet ons ongeveer 183kg atjar maak. Sou jy dus so 200 kg atjar vir die huishouding van 4 mense maak, dan maak jy ook voorsiening vir familie wat kom kuier. Mens besef soms nie hoe maklik en haalbaar so ‘n plan is en hoe dit ‘n huishouding finansieël kan help nie. Dieselfde kan ook gedoen word met kool, wortels en ander groentes in ‘n gepekelde vorm. Resepte vir vleis, vis en selfs eiers is ook beskikbaar. Onthou jy nog kerrie-eiers as kind?

Om terug te keer na vandag se groot woorde, kan ons amper sê dat “voedselsekerheid” bereik kan word deur voedselpreservering. Aan die begin van die vorige eeu tydens die Anglo-Boereoorlog was hierdie gedagte by die volk ingeprent as gevolg van Kitchener se “verskroeide aarde beleid”, waar mense letterlik van honger en ontbering gesterf het. Voor hierdie oorlog, maar veral daarna, was naas bees en skaap, die spens die middelpunt van rykdom op die plaas. In vandag se dae bestaan daar skaars ‘n spens in ons moderne huishouding. Selfs kaste en ander pakplek word in die hedendaagse argitektuur ingeboet omdat klein aankope gerieflik en op feitlik enige tyd of plek by nabygeleë winkels gedoen kan word.

 

My voorstel, sou jy jou in preservering wou begewe, is om vir jou ‘n spasie in te rig waar jy dit kan doen – so ‘n 5m x 5m óf selfs groter vertrek sal lekker werk. Kry vir jou groot 200-liter houers wat kan seël, een vir elke vrugte- of groentesoort wat jy wil preserveer. Kry ‘n lekker resep waarvan jou familie hou, en sie daar! Ek hoor klaar jou bekommernis – is dit reg en gesond om meer te maak wat langer hou?… dit sal nie werk nie. My antwoord is: maak net genoeg vir ‘n jaar. Daarna kan jy weer maak. Op die wyse verloor jy die minimum wat dalk kan bederf en jou kos bly gesond. Onthou, vir hoe langer gepreserveerde kos moet hou, hoe duurder en meer ongesond word die preserveringsproses.

Nou kom die belangrikse vraag van alles … wat kos dit en hoeveel bespaar ek? Asseblief as iemand jou sou vra, moenie sê dat ek jou die geheim vertel het nie. Maak jou eie som, maar hier is die formule vir Suid Afrika.

Jy kan alle kossoorte wat geblik, gebottel of ge-“box” is, se prys op die rak deur 4 deel, en dit is wat dit jou gaan kos vir dieselfde produk se porsie, of gewig. Natuurlik is dit nou sonder jou en jou gesin se arbeid, die samesyn en die trots om te kan sê, dit kom uit óns spens of, óns familieresep of, óns familie het dit saam gedoen. Die wins en plesier uit so ‘n projek kan nie in rand en sent gemeet word nie.

Ons moet weer ‘n tradisie kweek om te wil “bêre vir later”.

 

https://www.facebook.com/pg/capuachaar/photos/?ref=page_internal

3.33 avg. rating (71% score) - 3 votes