Deel die artikel met jou vriende:

Die ongerepte natuur is perfek en dit is natuurlik hoe dinge veronderstel is om te wees.  Maar natuurlik kom rep die mens toe omdat hy dog hy mog en nou sit ons met die resultaat van 10 000 jaar se impak van die mens op die natuur wat die volgende insluit:

  • Die invoer van uitheemse plante en diere in gebiede waar hulle glad nie hoort te wees nie.
  • Grondwaterontrekking, opdamming en kanalisering van oppervlakwater vir besproeiing wat die waterregime van hele gebiede verander het.
  • Ontbossing om plek te maak vir landerye en plantasies.
  • Die verandering van die grondchemie en -struktuur deur die gebruik van kunsmis.
  • Die gebruik van gifstowwe om peste te bestry.

Wanneer mense hiermee gekonfronteer word, sal hulle dikwels iets sê soos: as dit nie vir ons was nie sou miljoene mense van honger gesterf het – maar nooit: omdat ons soveel kos maak, kan mense ongebreideld aanteel nie.

Wanneer mense op die impak van wateronttrekking gewys word, dan is hulle verweer dat dit die enigste manier is om suksesvol te boer in plekke waar daar nie genoeg reën is nie.  Maar sonder om rekening te hou met die impak op die organismes wat van die beperkte waterbronne in die omgewing afhanklik is nie.

Wanneer mense gewys word op die impak van gifstowwe op die omgewing, dan is hulle verweer dat hulle nie anders kan nie aangesien hulle verliese so groot sal wees dat hulle nie ‘n profyt sal maak nie.  Maar daar word nie een oomblik rekening gehou met die impak wat dieselfde gifstowwe op die bestuiwers het nie.  Natuurlik word daar ook nie rekening gehou met al die ander organismes wat ook van hierdie insekte afhanklik is nie want hulle is nie ekonomies belangrik nie.

Wanneer mense gewys word op die impak van kunsmis op die grond wat tot verbrakking en die uitwissing van belangrike mikro-organismes lei, dan is hulle verweer dat dit die enigste manier is om produksie te verhoog.  Maar daar word nie rekening gehou met die feit dat hulle nie meer sal kan boer as hul grond verbrak, die patogeniese nematode toeneem en die swamme, wat vir grondvorming verantwoordelik is, uitgewis word nie.

Die beste benadering sal wees om ons kosproduksie met die natuur te laat harmonieer.  Dit bedoel dat ons droogtebestande plante in droë gebiede moet plant, gewone besproeiing met drupbesproeiing moet vervang, dat waar moontlik, inheemse plante en diere as kos moet gebruik en dat ons eerder kompos as kunsmis moet gebruik.

Oor die laaste paar dekades het ‘n vegetariese lewensstyl al hoe meer populêr onder omgewingsbewustes geword.  Oorspronklik was dit ‘n religieuse-filosofiese standpunt, maar later het daar ‘n pseudowetenskaplike / etiese element bygekom.

Een van die argumente wat geopper word is dat vleis tot 10 keer meer water kos om vleis as groente te produseer.  Deel van hierdie kosteberekening is die hoeveelheid water wat gebruik word om veevoer te produseer.  Wat mense nie in ag neem nie is dat die reën wat oor die veld val natuurlik is en die water van ‘n voerkraal wat soos in die geval van besproeiing, deur die mens uit die natuur onttrek word.

Groente bevat baie meer water as vleis en dus moet mens meer groente as vleis eet om dieselfde voedingswaarde in te kry.  Dis hoekom ‘n bees die hele dag vreet maar ‘n leeu twee keer ‘n week.  Dit is veel moeiliker om groente te verteer as om vleis te verteer.  Plantvreters se spysverteringstelsels is massief teenoor predatore s’n want daar is soveel meer onverteerbare vesels in groente terwyl alles in vleis verteerbaar is.  Dink maar hoeveel mis ‘n bees in vergeleke met ‘n leeu produseer.  Vleis bevat alle voedingstowwe wat mens nodig het (mits alle organe geëet word), terwyl groente en vrugte net baie spesifieke voedingstowwe bevat en dus ‘n groot verskeidenheid plante geëet moet word om dieselfde voedingstowwe te kry – gewoonlik drink vegetariërs maar pilletjies om daarvoor op te maak terwyl ‘n mens wat vleis eet ook groente en vrugte kan eet om al hul voedingstowwe in te kry.

Die laaste, en sekerlik die belangrikste aspek wat vegetariërs uit die oog verloor is die impak van ‘n groenteboerdery op die natuur.  Elke organisme op ‘n groente- en vrugteplaas, buiten vir die aangeplante gewasse (en natuurlik die onbesonge bestuiwers), is ‘n bedreiging en gevolglik word miljoene liters insek- en onkruidgif jaarliks op plase in Suid-Afrika gebruik.  Hierdie boere moet van die natuurlike voëls, soogdiere, insekte en elke ander plant, wat moontlik nog in hierdie veranderde omgewing kan oorleef, ontslae raak of uitsluit.  Buiten vir myne, is groente- en vrugteplase sekerlik die mees getransformeerde omgewing waar die meeste skade aan die ekologie berokken word.

‘n Beesplaas met natuurlike weiding, is egter ekologies volhoubaar.  Meeste groot grasvreters soos buffels, elande en blouwildebeeste is oor die grootste deel van die land uitgewis en die ekologie is nou afhanklik van die beeste wat hulle vervang het.  Dink maar aan die vee-reiers wat saam met beeste in die veld loop om goggas te vreet en die miskruiers wat beesmis verwerk.  Die grootste ekologiese verandering wat hier plaasgevind het, is dat die oorspronklike groot grasvreters deur beeste vervang is terwyl die predatore deur die mens vervang is.  Al die derduisende ander organismes wat op so ‘n plaas voorkom kan met beeste kan saamleef terwyl die teenoorgestelde vir ‘n groente- en vrugteplaas waar is.

Ons sien dus dat die argument dat dit ekologies meer verantwoordbaar is om groete as vleis te eet van alle waarheid ontbloot is.  Laastens – indien mense argumenteer dat dit oneties is om diere dood te maak, dan het vegetariërs ‘n geweldige morele dilemma omdat hulle miljoene meer organismes as die vleiseters doodmaak en wat ‘n geweldige negatiewe impak op die natuur het en selfs uiteindelik, met die verdwyning van bestuiwers, tot die uitwissing van honderde duisende spesies, insluitende die mens kan lei.

Kom luister gratis na Prof Francois Durand se aanbieding, “Red die planeet – Eet vleis”, tydens Sakeliga KragDag 2019 op Vrydag 9 Augustus tussen 15:15 en 16:00 in die Raadsaal op die KragDagterrein.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

3.33 avg. rating (68% score) - 9 votes