Deel die artikel met jou vriende:

Om selfstandig en staatsbestand te word het jy ‘n-boer-maak-‘n-plan ingesteldheid nodig. Dit is in hierdie opgewonde atmosfeer wat die grootste “Doen jou eie ding!” ekspo in die land weer op 8-10 Augustus 2019 plaasvind om elkeen wat dit bywoon te inspireer en bewend lus te maak vir nog ‘n wegspring vir ‘n avontuurlike gesinsvryheid projek.

In die KragDag kultuur word nie staat gemaak op die regering, politici en die staat om ‘n goeie toekoms te voorsien nie. Voorbeelde van hulle mislukkings en vergrype is nie net beperk tot staatsondernemings (Eskom, SAL, SABC ens.), die ekonomie, veiligheid, en opvoedkunde nie, maar ook op die verarming van die psige van elkeen in die land (sommige deur skuldgevoel en andere deur slagoffermentaliteit aansprake op ander se eiendom). In die KragDag kultuur word deur selfdoen en saamdoen verantwoordelikheid geneem, vorentoe gekyk en aanspreeklikheid aanvaar om ‘n eie toekoms te bou.

Besoekerregistrasies vir Sakeliga KragDag 2019 het reeds op 1 Mei geopen en dit is vir ons belangrik dat elkeen wat hom op die selfstandigheidsroete wil begeef, toegang tot die ekspo het en daarom is ons bereid om selfs van die R90 hekgeld per volwassene afstand te doen vir besoekers wat vooraf registreer. Ons opgewondenheid vir entrepreneurskap spreek vanself uit die KragDag leuse en daarom het ons ‘n soortgelyke ingesteldheid ten opsigte van KragDag uitstallers, waar verskillende pakkette beskikbaar is om voorsiening te maak vir beide die begrotingsensitiewe as die reeds welvarende onderneming (Ons hoop natuurlik dat verskeie van vandag se besoekers sal ontluik in môre se uitstallers). Kwaliteit uitstallings bly egter ononderhandelbaar.

Besoekers wat KragDag verlede jaar bygewoon het, kan vanjaar na nog meer uitsien om te geniet met genoeg nuwe goed om te beïndruk. KragDag se ingesteldheid op tegnologie en kreatiwiteit leen hom daartoe dat daar vanself voortdurend nuwe goed by KragDag is, maar daar is ‘n paar dinge wat vanjaar uitstaan.

KragDag se Tema uitstallings

KragDag se opelug uitstalterrein is ingerig vir ‘n leersame dag in ‘n karnaval atmosfeer. Op die vyf hektaar ekspoterrein is daar 475 uitstallers wat sowat 4 km se winkelfront bied.

Met die groter wordende Eskom en elektrisiteitskrises bly die grootste fokus by die ekspo energieselfstandigheid, maar die KragDag tema strek ook oor verskeie ander terreine soos Opvoedkunde, Veiligheid, Tegnologie, Water, Voedselproduksie, Gesondheid, Ekonomie, Finansies, die bevordering van ‘n Makersbeweging en Entrepreneurskap.

Die Tema uitstallers sluit onder andere in sonkrag elektrisiteit, sonkrag waterverhitting, biogas, kragopwekkers, windlaaiers, stoor van energie, veiligheid en selfverdediging, nutstoerusting, kettingsae en kragtoerusting, elektriese fietse en motors, nutsvoertuie, ‘n sonkrag motor, boorgattoerusting, pompe, wateropvang, -berging, -besparing en -suiwering, vertikale tuine, akwaponiese en organiese boerdery, erfsaad bewaring en benutting, energie- en omgewingvriendelike konstruksie, Doen-dit-Self (DIY), riool behandeling, -suiwering en benutting, gastoerusting, 4×4 en buitelug kampeertoerusting, energie effektiewe beligting en energie opwekkende selfsorg ligte, isolasiemateriaal, sonkragopleidingsgeleenthede, dubbelglas huis-isolering, kombuistoerusting, gesondheidsprodukte, beleggings en finansiële versorging, klimaatbeheer, brandtoerusting en produkte uit herwinde materiale.

KragDag kry sy eie Landbou-ekspo

Vanjaar word vir die eerste keer ook ‘n volwaardige landbou sub-ekspo in samewerking met TLU SA by KragDag aangebied en daarom is die tema van vanjaar ook ‘n Boer maak ‘n Plan. Die landbou sub-ekspo bied ‘n uitgebreide ervaring vir besoekers met talle diere, perde vertonings ‘n arena program, landbou implemente, ‘n slaglamkompetisie, die Toyota Junior Afslaers Streekskampioenskappe, landbou aanbiedings in die twee lesingslokale, nuwe landbou tegnologie, maar ook boerdery moonlikhede vir klein area nisboere.

Makersbeweging

Oplossings waaroor daar toenemend opgewondenheid is, is die makerbeweging uitstallers. Die makerbeweging is ‘n tegnologiese doen-dit-self en omvat enige aspek waar die vervaardiging van dinge wat voorheen net deur gesofistikeerde groot ondernemings moontlik was, nou terug gebring kan word na die maker in sy huis. Dit sluit in dinge soos hommeltuie, 3D drukkers, robotika, elektronika en die Internet-van-dinge. By KragDag word voorsiening gemaak vir beide kommersiële en eksperimentele makers. Laasgenoemde is daardie ouens wat bv. met ‘n rekenaarbordjie sommer vir die lekker ‘n oulike ding gebou het, wat hy wil tentoonstel.

Opvoedkunde sub-ekspo

In die Opvoedkunde sub-ekspo word voorsiening gemaak vir tuisonderwys, privaatonderwys en leerhulpmiddels, sowel as verskeie tersiêre opleidingsgeleenthede.

Ander aktiwiteite en besienwaardighede

Nog ‘n nuwe toevoeging tot die ekspo wat beloof om ‘n groot aantreklikheid te wees is die buitelug kragtoerusting uitstalling met verskeie kettingsaag- en houtkompetisies sowel as ‘n grassnyer resies.

‘n Ander uitstaande fokuspunt by elke jaar se ekspo is die KragDag raadsaal met sowat 20 aanbiedings oor die drie dae wat naas die aanbiedings in die landbousale en die arena gratis vir die besoekers aangebied word. Dit dek ‘n wye verskeidenheid aktuele en praktiese onderwerpe en sal ook lewendig op sosiale media gestroom word.

Junior Entepreneurskompetisie

Soos reeds gemeld is entrepreneurskap implisiet deel van die KragDag filosofie en daarom maak dit voorsiening vir ‘n Junior Entrepreneur afdeling waar kinders en jongmense tot 21 hulle entrepreneursvernuf kan toets en aan die Junior Entrepreneurskompetisie kan deelneem met R10 000 prysgeld vir die wenner en die geleentheid om onder mentorskap van die gesoute besigheidsafrigter Fergus Fergusson op die pad van sukses gelei te word.

Die versoekings

Vir genotvolle innerlike versterking en kuier is daar sowat veertig verskillende soorte eet en knibbelgoed en delikatesse om van te kies en te keur … en aan te hou geniet. Daar is ‘n biertuin met kommersiële bier, tuisbier, mampoer en mengdrankies en ‘n musiekfabriek wat deurlopend lewendige musiek verskaf.

Die Snuffelmark met ‘n verskeidenheid wat te groot is om op te noem, bied ‘n lus vir die oog met hoofsaaklik duursame en handgemaakte items.

Die groot verskeidenheid van vermaak sluit in enige iets van ossewaritte tot helikopterritte met ‘n groot verskeidenheid tussenin – poniekarre en perderitte, verfbal, lasaroorlogbaan, 5D filmervaring, diere-uitstalling deur die Mpumalanga Jeugskou, ‘n wa-laer en lewendige Voortrekker leefstyl uitstalling met demonstrasies van broodbak, kersemaak, geweerlopers giet en meer, rekspronge, ‘n opblaasvuurpyl, ‘n reuse glybaan en ‘n verskeidenheid ander kindervermaak, waarvan verskeie gratis is.

Wanneer en waar vind Sakeliga Kragag 2019 plaas?

  • Donderdag 8 Augustus 2019, Vrydag 9 Augustus (openbare vakansiedag) en Saterdag 10 Augustus.
  • Elke dag van 9:00 tot 16:00.
  • Dit vind plaas op die KragDag Ekspoterrein op Diamantvallei.

Hekgelde (R90 … of NIKS!)

In teenstelling met baie ander ekspo’s is KragDag ‘n gesinsgeleentheid en daarom kan kinders tot 18 jaar gratis inkom. Vir volwassenes is die hekgeld R90 per persoon. Indien jy egter met jou e-posadres voor 6 Augustus op KragDag se webtuiste registreer, is jou toegang gratis. As jy vooraf geregistreer het of eenmaal deur die hek is, gee dit ook vir jou gratis toegang vir die ander twee dae.

Akkommodasie

Een dag se bywoning is baie beter as niks, maar dit is eintlik te min om by alles uit te kom. Net die sprekers in die Raadsaal alleen maak dit die moeite werd om die ander dae ook by te woon, boonop teen geen ekstra koste nie.

Daar is ook ‘n kampterrein op die KragDag perseel en akkommodasie in die omgewing vir mense wat wil oorbly.

Jy hoef nie KragDag by te woon nie, maar kan jy dit bekostig om dit nie te doen nie? Dit is ‘n dag, of drie dae, in jou jaar goed spandeer. Die effek van die vrywees filosofie wat integraal deel is van KragDag en die uitstallings wat hiermee handel, kan ‘n groot impak op jou lewe kan maak.

By KragDag is jy nie net ‘n vermaaklikheidstoeskouer is nie, maar ‘n deelnemer in interaksie met dinge wat ‘n verskil in jou lewe kan maak.

Vir meer besonderhede besoek www.kragdag.co.za.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.33 avg. rating (86% score) - 3 votes