Deel die artikel met jou vriende:

Kom luister gratis na hierdie aanbieding tydens Sakeliga KragDag 2018 op Donderdag 9 Augustus tussen 11:00 en 12:00 in die Raadsaal op die KragDagterrein.

Aanbieder:

Prof Danie Goosen is die aanbieder. Nadat Danie Goosen matriek voltooi het, het hy ekonomie, klassieke tale, teologie en filosofie aan die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Suid-Afrika bestudeer. Na voltooiing van sy proefskrif oor “Nietzsche en die Verwondering” word hy aangestel as dosent in die Departement Godsdienswetenskap aan Unisa, waar hy tans as professor dien. Hy gee ook vir etlike jare klas in die Departement Argitektuur aan UP oor die filosofie van die argitektuur. Professor Goosen is lid van verskeie akademiese verenigings, waaronder die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Goosen is vanaf 2004 die voorsitter van die direksie van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Hy is ook ’n direksielid van AfriForum, die burgerregte organisasie van die Solidariteit Beweging, asook ’n direksielid van Akademia, die nuwe Christelik-Afrikaanse universiteit. Hy is getroud met Prof. Amanda du Preez van die Departement Visuele Kunste aan die Universiteit van Pretoria.

Opsomming:

Tydens die era van die moderne territoriale state (dit wil sê die era van omstreeks die 1500’s tot en met vandag) woed dikwels ’n vyandskap van die state teen gemeenskappe in hul eie grondgebied. Gemeenskappe van allerlei soorte (volke, tale, lokale gemeenskappe, ensovoorts) staan ingevolge dié vyandskap in die pad van state se ambisie om hul wil op almal af te dwing. Anders as wat dikwels deur liberale woordvoerders voorgegee word, is dit daarom ook nie die individu wat die groot vyand van die moderne state is nie, maar eerder die gemeenskappe binne hul onderskeie grondgebiede. In hierdie voordrag sal gevra word 1). Waarom moderne state dikwels ’n vyandskap teen gemeenskappe verklaar, 2). Hoe dié state daarin slaag om die gesag van gemeenskappe te ondermyn, en 3). Wat gemeenskappe kan doen om hulle teen die sentralistiese ambisies van state (ook die Suid-Afrikaanse staat) te beskerm. In antwoord op genoemde vrae sal eerstens by ’n belangrike tendens in die moderne state stilgestaan word, naamlik om ’n strakke eenvormigheid op almal af te dwing. Tweedens sal verwys word na die ewe belangrike tendens in die moderne state om mense uit hul gemeenskapsverbande (gesinne, kulture, tale, godsdiens en natuur) te abstraheer. Volgens die oordeel van moderne state is ons as mense slegs losstaande individue. (In die Klassieke denke is ’n toestand waarin die mens ’n pure individuele bestaan voer, as ’n monsteragtige toestand beskryf. In die moderne liberale denke word dié toestand genormaliseer en as normatief aan almal voorgeskryf). Laastens sal gevra word of daar alternatiewe politieke denke vir kultuurgemeenskappe bestaan wat hulle in staat stel om hulself van die greep van state te ontworstel. Die selfstandigheid van gemeenskappe staan in die hart van die antwoord.


 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes