Deel die artikel met jou vriende:

Wanneer van energiebesparende beligting gepraat word, is glimdiodelampe of LED-lampe deesdae die gonswoord. LED-lampe is vandag in soveel gerieflike formate beskikbaar dat meeste bestaande lampe – gloeilampe (incandecant lamps), CF-lampe, (CFLs) en baie ander soorte lampe gerieflik met LED-lampe vervang kan word. Vervanging van ouer tegnologie lampe met LED-lampe is waarskynlik ‘n eerste stap ten einde elektrisiteitskostes te bespaar. Die ingeligte huiseienaar moet egter ‘n paar oorwegings in gedagte hou indien hy of sy beplan om so ‘n projek aan te pak.

Terloops – verwarring oor terminologie bestaan as daar oor beligting gepraat word. In die volksmond word daar in die algemeen van “ligte” gepraat wanneer jy vir jou huis beligting aankoop of installeer. Die “lig” wat langs die bed of in die sitkamer staan, word ‘n “lamp” genoem en dikwels moet jy ‘n “gloeilamp” vervang as die “lig” nie meer werk nie. Deesdae het beligtingstegnologieë so verander dat dit nie duidelik is waarvan jy praat nie. In die jare her was dit genoegsaam om te praat van ‘n “gloeilamp”, maar ‘n CFL is tegnies nie ‘n gloeilamp nie omdat dit nie ‘n filament het wat kan gloei nie!

Dit wil tog voorkom asof daar in die tegniese literatuur riglyne ontstaan rondom terminologie. In tegniese sin byvoorbeeld, word daardie vervangbare komponent wat ontwerp is om met elektrisiteit lig uit te straal, ‘n lamp genoem. Lampe het normaalweg ‘n basis van keramiek, metaal, glas of plastiek wat in ‘n lampsok pas. Die koppeling in die sok geskied by wyse van ‘n indraaikoppeling, bajonetkoppeling of met iets so eenvoudig soos twee penne of plate. ‘n Lampsok word gewoonlik in ‘n luminaire bevestig. Die woord luminaire is Frans wat van die Latynse woord luminare afkomstig is en beteken letterlik “dit wat lig gee”. Die luminaire is die volledige beligtingseenheid wat uit lamp(e) bestaan tesame met komponente wat beligtingseffekte bewerkstellig deur die lig te fokus, te aksentueer, te attenueer, te sprei, te strooi of om kleureffekte te bewerkstellig. Verder dien die luminaire as ‘n basis waarmee die fisiese installasie (meganies en elektries) gedoen kan word. Behalwe vir die beligtingsfunksie verskaf die luminaire, afhangende van die toepassing, ook atmosfeer aan ‘n ruimte en het dit ‘n estetiese karakter.

Let daarop dat dit nie ‘n gegewe is dat luminairs lampe móet bevat nie. Die skrywer van die artikel het enkele jare gelede ‘n luminaire ontwerp en gebou om die beginsel te demonstreer dat glimdiodes by die luminaire-ontwerp geïntegreer word, soos in die foto’s hierbo gesien kan word.

Die oorwegings, hieronder gelys,  moet ingedagte gehou word indien jy sou besluit om jou bestaande lampe met LED-lampe te vervang. Hou in gedagte dat hierdie oorwegingsfaktore wissel van produk tot produk, afhangende van die vervaardiger en van prys. Jy kan die tegniese inligting wat op die LED-lampverpakking gedruk en waarvan ‘n foto van ‘n tipiese voorbeeld – regs – ingevoeg is, gebruik om hierdie faktore af te lei. Die invloed wat dit op jou beligting het word ook bespreek.

1.  Kragverbruik en Helderheid van die LED-lamp:

LED-lampe is bekend vir effektiewe kragverbruik. Die kragverbruik word op die LED-lamp of die verpakking aangedui in die drywingseenheid – watt, byvoorbeeld 7W. Die oplettende leser sal egter gou uitwys dat om net na die drywing te kyk nie die volle prentjie weergee nie. Die hoeveelheid lig, of hoe helder die lig brand ten aansien van die drywingsvereiste is die eintlike vraag wat beantwoord moet word. Hoe helder die lig brand word in wetenskapsterme gedefinieer as die verligtingsvloed (luminous flux) wat in lumen gemeet word. ‘n Goeie vergelyking kan getref word tussen lampe in die algemeen en LED-lampe in die besonder deur die lumen per watt van elke lamp uit te werk. ‘n Tipiese gloeilamp se verligtingseffektiwiteit is 14 lumen per watt, ‘n CF-lamp is ongeveer 60 tot 70 lumen per watt, ‘n 32W fluoresserende T8 buis is ongeveer 88 lumen per watt terwyl goeie kwaliteit LED-lampe ongeveer 84 lumen per watt is. Die gemiddelde kwaliteit LED-lamp in die handel beskikbaar is ongeveer 70 lumen per watt. Ons kan dus hieruit sien dat, indien slegs kragverbruik die oorweging is om na LED-beligting oor te skakel, ander soort lampe dalk beter keuses kan wees.

 2.  Stralingsprofiel:

Indien jy besluit om na LED-lampe oor te skakel moet jy ingedagte hou dat LED-lampe Lamber’t stralers is. Dit beteken dat die ligbron vanuit ‘n plat vlak uitstraal met maksimum uitstraling loodreg op die vlak by die uitstralingsmiddelpunt van die glimdiode. Soos wat die uitstralingshoek afwyk van die genoemde loodregte rigting word die uitstraling minder in ooreenstemming met die Lamber’t Cosinus Wet. Daarteenoor neig ander soort lampe om sogenaamde omni-direksionele stralers te wees wat binne sekere beperkings ligoorvloei na agter het. Hierdie verskil in die stralingsprofiel kan ingrypende gevolge hê wanneer ‘n LED-lamp opgradering gedoen word.

Sou jy ‘n halogeen-neerstraler (down-light) met LED-neerstraler vervang, word die kenmerkende lig oorvloei van die halogeen-lamp uitgeskakel. Dit het tot gevolg dat waar byvoorbeeld ‘n neerstraler ‘n gang verlig, sal die boonste derde van die gangmuur in skadu gehul wees met die oorskakeling na ‘n LED-lamp. In ‘n ander aanwending waar kolbeligting gedoen word, kan die kol kleiner en helderder word terwyl die randte van die kol donkerder en duideliker word. Alhoewel sommige vervaardigers ‘n stralingshoek vir hulle LED-lampe spesifiseer is dit nodig dat ‘n sighoekkartering (view angle plot) van die spesifieke LED-lamp onder oë gekry word ten einde ‘n idee van die stralingsprofiel te kry. Dit is baie gespesialiseerd en daarom word die algemene gebruiker aangeraai om eers die effekte met ‘n enkele voorbeeld van die LED-lampe te toets voordat die bestaande beligting in totaliteit verander word.

3.  Kleurtemperatuur:

Normaalweg word beligting in ‘n huis met witlig gedoen. Witlig bestaan uit ‘n samevoeging van al die kleure van ‘n reënboog. Met nuwe tegnologie lampe is dit egter nie so eenvoudig nie. Keuses rondom watter tipe witlig was nie met konvensionele beligting soos gloei- en halogeenlampe nodig nie. Met die koms van CF-lampe en LED-lampe het ‘n keuse tussen koue-witlig en warm-witlig moontlik geword. Hierdie onderskeid word bepaal deur ‘n eienskap wat as die Kleurtemperatuur bekend staan en wat in grade Kelvin gemeet word. Kleurtemperatuur word breedweg in drie primêre gebiede verdeel, alhoewel fyner indelings soms gemaak word. Die eerste gebied word die warm-wit of sagtewit gebied genoem. Dit is witlig wat ‘n kleurtemperatuur van 2700˚K tot 3200˚K het. Let op dat kerslig ‘n kleurtemperatuur van ongeveer 1000˚K het. ‘n Tweede gebied van belang is die helderwit of koue-wit gebied wat in die 3500˚K tot 4100˚K gebied val. ‘n Derde kategorie van witlig word daglig genoem en val in die 5000˚K tot 6500˚K gebied. In die handel is koue-witlig LED-lampe meer volop – waarskynlik omdat die hoër kleurtemperatuur LED-lampe meer verligtingseffektief is.

Jou keuse van kleurtemperatuur hang af van die aanwending en ook die atmosfeer wat jy met beligting wil skep. Warm-witbeligting skep ‘n meer warm, rustige en ontspanne atmosfeer wat jy gewoonlik in ‘n slaapkamer, sitkamer, eetkamer en gange wil hê. Koue-witbeligting en dagligbeligting skep ‘n atmosfeer van aktiwiteit en afwagting en sal in kombuise, werkskamers, badkamers of studio’s aangewend word. Dit is selfs moonlik om warm-wit en koue-wit beligting te kombineer in ‘n vertrek om ‘n atmosfeer van algemene rustigheid te skep met warm-wit lig terwyl werkstafels of fokuspunte met koue-witlig belig sal word.

4.  Kleurweergawe:

Sommige LED-lampe laat kleure vaal lyk. Witlig-opwekking in ‘n glimdiode gebeur deur ‘n proses om of rooi, groen en blou glimdiodes te kombineer om witlig te verkry of om ‘n wit fosfor lagie op op ‘n blou glimdiode te plaas. Witlig word opgewek indien die blou straling op die fosfor inwerk, soortgelyk as wat by fluoresserende lig gebeur. Ongeag die metode van vervaardiging gebeur dit dat sommige van die witlig se kleurkomponente nie teenwoordig is nie en dit beïnvloed die kleurweergawe van die voorwerp wat belig word.

Die vermoë van ‘n lamp om tydens beligting die regte kleur weer te gee word gemeet in terme van die Kleurweergawe-indeks. (CRI- Color Rendering Index). CRI word op ‘n skaal van 1 – 100 gemeet en is ‘n kwantitatiewe maatstaf van die vermoë van ‘n ligbron om die verskillende kleure van ‘n voorwerp getrou weer te gee as dit vergelyk sou word met ‘n natuurlike ligbron soos die son.  Natuurlike witlig van die son is ‘n kombinasie van al die kleure in die sigbare lig spektrum. Om hierdie rede is elke sigbare kleur gelyk verteenwoordig in sonlig en word die werklike kleur van ‘n voorwerp getrou weergegee.  In die dae toe gloeilampe algemeen was, was kleurweergawe nie ‘n faktor nie. Die rede hiervoor is dat ‘n gloeilamp, soos ‘n halogeenlamp, ook ‘n natuurlike ligbron is met ‘n CRI van 100.

As ‘n duimreël, indien jy dus jou beligting opgradeer na LED-beligting kies LED-lampe met ‘n CRI van groter as 80. Indien daar ‘n behoefte is om voorwerpe kleurgetrou waar te neem sorg dat die CRI nie kleiner as 90 is nie.

5.  Domping:

‘n Verdere faktor wat oorweeg moet word indien jy jou beligting na LED-lampe sou opgradeer, is of jou bestaande stelsel van dompers (dimmers) gebruik maak. LED-lampe word verkoop as dompbaar of nie-dompbaar. Deur LED-lampe te domp kan jy energie bespaar en die visuele voorkoms en atmosfeer van jou lewensruimte verander. ‘n Nie-dompbare LED-lamp moet egter nooit in ‘n stroombaan met ‘n domper gebruik word nie. Dompbare LED-lampe kan egter in ‘n stelsel gebruik word sonder ‘n domper. Sou jy graag jou LED-lampe dompbaar wou hê, gradeer jou stoombaan op met ‘n hoë kwaliteit domper en maak seker dat dit versoenbaar is met jou dompbare LED-lampe.

6.  Lewensduur:

Lewensduur van LED-lampe is nog ‘n oorweging waarvan die huiseienaar wat opgradeer na LED—beligting moet kennis neem. LED-lampe het ‘n langer lewensduur as gloeilampe, halogeenlampe of CF-lampe.Die lewensduur word in ure gemeet. Soos met enige lamp neem die ligkwaliteit van die lamp af soos wat tyd verloop. Die wyse waarop gespesifiseerde lewenduur gebruik word is as volg. Gestel die lewensduur van die LED-lamp is 15 000 uur. Na verwagting word die lamp 3 ure per dag gebruik. Die lewensverwagting is dan 15 000uur/3ure = 5000 dae of amper 14 jaar. Persoonlik heg ek nie veel waarde aan sulke berekeninge nie aangesien die uitvoer en vertolking van betroubaarheids-analises van elektroniese toerusting veel meer ingewikkeld is as dit. Verder is die voorkoms van falings ‘n statistiese verskynsel.

Wat egter in gedagte gehou moet word is dat die aantal Aansit/Afsit siklusse die lewensverwagting van die lamp verkort. So ook sal gure omgewingstoestande soos groot temperatuurskommelinge, die teenwoordigheid van vog en meganiese vibrasie ook die lewensverwagting van die LED-lamp verkort.

 

Erkennings:

  1. https://www.integral-led.com/education/warm-white-or-cool-white
  2. http://blog.batteriesplus.com/2013/seeing-things-in-a-different-light
  3. http://www.lightology.com/index.php?module=how_to&sub=cri
  4. http://led.linear1.org/how-do-they-make-white-led-light/
  5. https://www.integral-led.com/education/dimmable-and-non-dimmable-led-lamps
  6. https://www.integral-led.com/support/how-long-will-led-lamp-last
0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes