Deel die artikel met jou vriende:

Ek hoor dikwels dat mense die versugting uitspreek om óf hulle eie lewensverhale, óf hulle familie se geskiedenis op te teken vir die nageslag. Wat ’n edele voorneme is dit nie! Maak egter summier werk daarvan, want van uitstel kom afstel – of erger nog, ’n bejaarde familielid sterf dalk en daarmee saam ’n biblioteek se herinneringe!

Jy dink dalk terug aan ’n geliefde ouma of oupa wat kleintyd vir jou stories vertel het van dié of daai familielid wat sus of so gemaak het. Jy sal waarskynlik vind dat jy hierdie kosbare vertellinge nie meer mooi kan onthou of na behore kan oorvertel nie. Dit is asof die details mettertyd dof raak, asof dit maar ’n vae droom was wat nou tartend net-net buite jou bereik wink. Jou geheue laat jou in die steek, en jy vergeet. Dis menslik.

My Oupa het byvoorbeeld as kind ternouerdood ’n lyn deur die mielieland moes sny toe sy pa hom wou foeter. Met dié dat hy besef Oupagroot het hom ingehol en is óp hom, gaan sit hy karplaks! net daar op die grond en maak hom klein. Oupagroot was natuurlik op volle vaart en kon nie sy remme kry nie. Hy het bo-oor Oupa geduik dat jy net sien baardstoppels trek toe sy kennebak ’n voor ploeg in die land. Nodeloos om te sê, maar toe die oukêrel dáár opstaan was die gort behóórlik gaar! Oupa het riemgespring dat dit ’n naarheid was. Saam met die heerlike onthou kom die vrae. Hoekom was Oupagroot in die eerste plek kwaad vir Oupa? Hoe oud was Oupa toe gewees? Oupa is nie meer daar om te vertel nie. En soms, al lewe die oorspronklike storieverteller nog, kan hulle dalk self nie meer onthou nie as gevolg van demensie of alzheimersiekte. Dít is hoekom dit so belangrik is om hierdie skatkis van herinneringe neer te pen alvorens dit vir altyd vir die nageslag verlore is.

Kry jou familielede betrokke

Stel die familie in kennis van jou voorneme om julle geskiedenis te boekstaaf. Jy sal tien teen ’n positiewe reaksie ontvang en ook aanbiedinge om te help. Moenie alles jouself wil doen nie – maak die familieboek ’n spanpoging en verseker só almal se samewerking. Hoe meer familielede jy betrek, hoe makliker sal dit wees om inligting te kry. Reël ’n familievergadering, stel ’n plan van aksie op en kom ooreen op sperdatums. Besluit wie is verantwoordelik daarvoor om bv. ou briewe en poskaarte te versamel, dalk dokumente soos geboorte-, doop- en doodsertifikate bymekaar te kry, of foto’s en ou liefdesbriewe op te diep. Moenie vergeet van gunstelingresepte of handwerkpatrone nie. Dit is selfs ’n goeie idee om CV’s en bio’s van al jou familielede aan te vra.

Fokus op die menslike aspek

Onthou, die familiegeskiedenis hoef nie vervelig, kronologies-feitelik en/of biografies/outobiografies van aard te wees nie. Lys gerus die geslagregister so ver terug as wat bekend is, maar konsentreer eerder daarop om ’n lekkerleesboek vol stories en herinneringe die lig te laat sien. Lig die menslike aspek uit. Die doel is tog dat ’n agterkleinkind sal lees van oorlede Oumagroot wat as jong meisie in ’n klerefabriek gewerk het toe sy vir Oupagroot ontmoet het en op die tere ouderdom van 16 getroud is. Soek altyd die storie ágter die storie. Hoe het Oupa die jawoord gevra? Het Oumagroot haar trourok self gemaak of laat maak? Waar het Oumagroot-hulle wittebrood gehou? Waar het hulle ná hulle troue gaan woon? Watter kar het hulle gery? Delf selfs verder terug as jy kan. Waar het hulle skoolgegaan? Tot watter standerds het hulle skoolgegaan? Wat was hulle ouers se name en waar het dié gewoon?

Pen ook die jonger geslag se stories neer

Moet ook nie nét konsentreer op die ouer geslag nie. Jou familie bestaan uit jonger lede ook. Daar is niks mee fout om hulle ook in die boek te noem nie. Pittige kindersêgoed en hulle, soms lagwekkende, doen en late kan van jou familieboek ’n kosbare herinneringsreis maak. Dit sal ook interessant wees om te lees oor hoe familielede dalk in ander lande nes gaan skrop het. Met dié dat baie families deesdae wyd verspreid oor die aarde voorkom, sal ’n familieboek wat elkeen se eksodus saamvat mos ’n kleinood wees. Hoeveel Suid-Afrikanertjies wat in Kanada, Amerika, Engeland, Nieu-Seeland, Australië, ens. grootword, se krose sal eendag persoonlike stories kan vertel van hulle voorouers hier aan die suidpunt van Afrika? Ons wat nog hier in die sonskynland oorleef weet dan skaars hoe ons onmiddellike voorgeslagte se lewensverhale verloop het of selfs net wat hulle name en nerings was! Wat nog te sê al die heerlike stories oor hulle lewens en menswees!

Jy kan die manuskrip altyd weer bywerk

Dit is deesdae so maklik om ’n boek te laat druk dat niks wat jy skryf noodwendig in graniet gegiet hoef te wees nie. Jy kan altyd elke paar jaar ’n bygewerkte weergawe die lig laat sien. As jy jou boek op ’n aanvraagbasis laat druk, hoef jy nie eens ’n klomp eksemplare in ’n boks in jou motorhuis te stoor nie. Wanneer jy wel op ’n bygewerkte herdruk besluit, bestel die familielede bloot net ’n kopie sou hulle graag een wou besit. Jy kan ook blog oor jou familiegeskiedenis en dan net die privaatheidstellings aanpas sodat nét jou familielede toegang het. Indien jy of een van jou familielede nie skrywers is nie, kan jy die inligting aan ’n spookskrywer gee en vra dat dié die geskiedenis vir julle opteken.

Hoe gemaak met ’n geraamte in die kas?

Elke familie het ’n geraamte of ses in die kas. En hoe skryf jy nou in jou familieboek van ’n broer of ’n oom wat dalk in die tronk is? Jy kan dit nie regtig ignoreer nie, dit ís tog deel van jou familie se geskiedenis. Moontlik kan jy die sentrale tema van die familieboek só inspan dat jy nie die skades en skandes van die familie hoef uit te lap nie. Die goue reël is egter om skinderstories te vermy. Wees ook versigtig om nie net jóú weergawe van ’n storie neer te pen nie. Dit is nie jou werk om te oordeel of te veroordeel nie. Noem net kortliks die feite en bly weg van enigiets wat as laster of naamskending beskou kan word. Miskien kan jy die persoon nader en vra hoe jy sý paragraaf of drie in die boek kan bewoord. Moet ook nie die familieboek as ’n wapen gebruik deur nie familie daarin te noem vir wie jy dalk kwaad is nie.

Span tegnologie in

Dit gaan nie vir jou moontlik wees om persoonlik al die stories by al jou familielede uit te vis nie. Boonop kan jou notas wegraak of só kripties wees dat jy nie meer kan onthou waaroor julle gesels het nie. Gebruik jou selfoon en maak video- en stemopnames as jou familielid daartoe instem. Of vra hulle om vir jou die herinnering as ’n stemboodskap of op skrif deur te gee. Wees kreatief en maak die insameling van inligting so maklik en prettig as moontlik.

Spookstories of ouplaasstories?

Besluit vooraf watter tipe inligting jy graag wil hê, en van wie. Wil jy dalk nét Oupa- en Oumagroot se lewe boekstaaf? Of sluit jy hulle kinders en dié se krose in? Moontlik wil jy spookstories of ouplaasstories opteken? Of dalk net heuglike gebeurtenisse soos troues, dope, gradeplegtighede, ens. Hoe ook al sy, maak jou versoeke duidelik, redelik en onthou om dankie en asseblief te sê – jy is nie ’n generaal wat troepe rondbeveel nie en almal lei besige lewens. Onthou om spertye te gee en volg gereeld diplomaties op.

Lekker skryf!

Gaan lees gerus ook hierdie oulike blog deur Ilze Nieuwoudt getiteld Familiegeskiedenis: Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou wat op Wêreldwyd verskyn het.

 

Erkennings:

Hooffoto deur Zoltan Matuska (Pixabay)