Deel die artikel met jou vriende:

Stres is ‘n gonswoord wat meeste van ons amper op ‘n daaglikse basis hoor, van lees of self gebruik. Ons diagnoseer onsself, maar ook ander mense gereeld as dat hulle baie stres het wat tot een of ander simptoom of optrede lei. Hierdie artikel handel nie oor al die oorsake of simptome van te veel of ongesonde stres nie, maar eerder oor ‘n minder bekende faktor wat ‘n rol kan speel by streshantering asook die basiese dinge wat ons kan doen om die effek daarvan te versag. Party mense hanteer stres net eenvoudig minder goed as ander en almal van ons kan nie net ons werk bedank of die persoon of situasie wat stres veroorsaak vermy nie.

Die afgelope week het daar in The Guardian ‘n berig verskyn met die volgende opskrif: Stress in fathers may alter sperm and affect behaviour in offspring. Daar word dan verder uitgebrei op eksperimente wat op muise gedoen is wat aandui dat selfs èèn matig stressvolle episode daartoe lei dat sekere tipes molekules (mikroRNA) in die sperme toeneem, wat veroorsaak dat die onmiddellike nageslag nie toepaslik op stres kan reageer nie en dat hierdie onvermoë kan lei tot neuropsigiatriese toestande soos depressie en PTSD (post-traumatic stress disorder). Professor Bale van die Universiteit van Maryland postuleer dat die nageslag se hipotalamus, wat diè deel in die brein is wat jou stresreaksie bepaal, wel op ‘n manier deur hierdie mikroRNA beïnvloed word.

Sou hierdie navorsing ook geld vir mense met depressie en ander geestegesondheidstoestande, wat tans ‘n epidemiese omvang aanneem? Daar is blykbaar wel al gevind dat een spesifieke tipe mikroRNA geassosieer mag word met ‘n ander neuro-psigiatriese toestand, naamlik mense wat simptome van ‘n psigose gehad het, m.a.w. dinge gesien of gehoor het wat nie bestaan het of wat kontak met realiteit verloor het.

‘n Verslag op m.phys.org stel dit dat bogenoemde navorsing ‘n beter begrip gee oor die sleutelrol wat vaders speel in die breinontwikkeling van hul nageslag. Dit is reeds bekend dat die verwagtende moeder se omgewing gevolge mag hê op die genetika van die kind in die veld van epigenetika, waar die aan- en afskakel van sekere gene deur omgewingsfaktore bestudeer word. Daar is al heelwat werk gedoen om hierdie verbande te demonstreer en te probeer verstaan, maar ons praat van baie ingewikkelde neurofisiologiese prosesse. Die feit wat egter nou duidelik word, is dat beide ouers se omgewing ‘n invloed kan hê op die kinders se genetika.

In 2005 het ‘n boek verskyn  met die naam Blue Genes, geskryf deur ‘n Amerikaanse psigiater Dr Paul Meier. Daarin bespreek hy die rol van genetiese geneigdheid in geestesgesondheid aan die hand van die nuutste ontwikkeling van daardie tyd. Die inligting daarin, meen ek, is steeds in die algemeen baie toepaslik.

In die boek verduidelik dr Meier dat sommige mense ‘n genetiese geneigdheid tot wanbalanse in die verskillende breinoordragstowwe het wat ons belewenis van en ons optrede in ons daaglikse bestaan (wat ook stres insluit) beïnvloed. Op daardie stadium het hy dit gesien as ‘n familiële neiging, maar die belangrike punt is dat party mense meer vatbaar is vir hierdie wanbalanse wanneer ander faktore ook nog bykom soos onderdrukte emosies, verhoudingsprobleme asook swak dieet, slaappatrone en lewensstyl. In die lig van die genoemde navorsing, sou hierdie neiging dan nie ook geldig wees vir die nageslag van ‘n pa wat alreeds erge stres soos oorlog, ander geweld van enige aard, finansiële nood, ens beleef het nie? Word daar gevolglik nie dan sò ‘n bose kringloop veroorsaak nie? Dan word die moontlike bydrae vanaf die ma se kant nog nie eens hierby ingereken nie!

Sonder om op die detail van elke oordragstof in te gaan, kan gesê word dat een oordragstof wat te laag is oorsaaklik kan wees vir – ván ‘n langdurige effens lae gemoedstoestand tót die oorweldigende simptome van ‘n erge depressie. Ván die oorkritiese persoon tot die een met volskaalse waandenkbeelde en vervolgingswaan mag die oorsprong van hul optredes hê in ‘n ander stof se wanbalans. Baie algemeen aanvaarde persoonlikheidseienskappe soos perfeksionisme, gawe mense wat nie kan ‘nee’ sê vir ‘n versoek nie, tot minder aanvaarbare eienskappe soos wrokkigheid en ‘n neiging tot woede-uitbarstings, kan die gevolg van hierdie wanbalanse wees. Sien en hoor ons nie elke dag van hierdie simptome in ons samelewing nie? Wanneer die simptome erg raak, moet die persoon sekerlik by ‘n dokter, sielkundige, huweliksraadgewer of psigiater uitkom wat intensiewe en duur mediese en ander behandeling tot gevolg het. Maar my vraag is: kan ons nie ten minste party van hierdie onaangenaamheid en hartseer ondervang deur voorkomend te probeer optree nie? Ons weet in elk geval nie altyd of ons so ‘n neiging het of nie.

Wat kan ons self doen? Die eerste waaraan ons aan aandag kan gee klink so basies, naamlik ons slaap- en eetpatrone.

Goeie slaaphigiëne

  • Sorg dat jy genoeg goeie kwaliteit slaap kry (7-8 ure per nag). Van die oordragstowwe word aangevul tydens ‘n spesifieke stadium van slaap en as hierdie siklusse nie normaal voltooi kan word nie, kan selfs ‘n heeltemal normale persoon op die langer termyn tekorte begin ontwikkel. Ideaal moet mens vanself kan wakker word voordat jou wekker afgaan. Wakker word 02h00-03h00 in die oggend op gereelde basis is kenmerkend van depressie!
  • Probeer om die laaste uur voor slaaptyd positief en ontspanne deur te bring – geen inspannende oefening of stryery nie! (Of nuus op TV!)
  • Raak daagliks ontslae van enige wrokkigheid voor slaaptyd. Praat dinge vroeër uit!
  • Probeer ‘n warm bad of koel stort voor slaaptyd, afhangende van wat jou gemaklik en ontspanne gaan laat voel.
  • Die kamer moet stil en donker wees. Die negatiewe invloed van koue, blou lig voor slaaptyd teenoor warm geel lig is ‘n hele studieveld op sy eie, asook die teenwoordigheid van TV en selfoonskerms.
  • Gebruik ‘n goeie stewige matras.

 

Dieet

Ons brein het boumateriaal nodig vir hierdie oordragstowwe en dit kan ons deur ons dieet inneem, al kan ons nie die stowwe self inneem.

  • Triptofaan: Suiwel, vleis (veral hoender en kalkoen), piesangs, vis, soja, grondbone, bruinrys.
  • Fenielalanien en tirosien: Dier- en plantproteiene, groente, gefermenteerde kosse.
  • Cholien: Lewer, eiers, koringkiem, spek en ander varkvleis, droë sojabone.
  • Vit B6: Vleis, vis, pluimvee, droë bone, piesangs, aartappels, rosyne, droë vye, dadels en pruime.

Hierdie artikel is nie bedoel om ‘n gedetailleerde uiteensetting van streshantering of volledige dieetplan te gee nie! Die bedoeling is bewusmaking van ons eie en ook ons naastes se moontlike neiging tot swak streshantering. Ons weet dalk nie daarvan nie en ons kan dit moontlik nie verander nie, maar ons kan dit waarskynlik deels ondervang met bogenoemde voorgestelde basiese en alledaagse aksies of maatreëls, voordat dit nodig word om aanvullings en ander dieetbyvoegings te gebruik of dringend by ‘n dokter of psigiater uit te kom.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.00 avg. rating (82% score) - 1 vote