Deel die artikel met jou vriende:

Hier in die sewentiger jare het die algemene publiek meer bewus geword van rekenaars en die rekenaartegnologie. Sakrekenaars was onbekend. Dit was die tyd van hoofrekene, logaritme boeke en die skuifliniaal. Slegs groot maatskappye kon hoofraamrekenaars bekostig wat met behulp van kaartponsmasjiene in FORTRAN en COBOL geprogrammeer is. Skrywers van wetenskapsfiksieboeke en -flieks het hulle verbeelding vrye teuels gegee oor hoe rekenaars die wêreld sou oorneem. Gewoonlik het ‘n poging van ‘n skurk om die wêreld te beheer uitgeloop op die rekenaar wat skouspelagtig ontplof!

Op skool, in daardie jare, was daar ‘n baie gewilde onderwerp tydens debatte bespreek, naamlik óf rekenaars die menslike samelewing tot ‘n einde sou bring. Mense sou verstandelik stagneer, verleer om somme te maak, te skryf en probleemoplossend te dink. Gesogte beroepe sou verdwyn en die rekenaar sou mense in die werkplek vervang. Nee, het die ander gesê, die koms van die motorvoertuig en meganisering in die landboubedryf het nie mense liggaamlik laat stagneer nie, sport het ‘n belangrike tydverdryf geword. Liggaamlik het mense goed en gebalanseerd ontwikkel. Mense is emosionele wesens, die rekenaar kan nooit die plek inneem wanneer gedig word, musiek en verhale geskryf word of Godsdiens beoefen word nie. Maar, na 40 plus jaar en soveel nuwe ontwikkelinge is dit interessant om weer die situasie in oënskou te neem.

Aanvanklik is gesê dat tegnologie ons vry sou maak om ons volle potensiaal te bereik – maar die huidige ontwikkelings het ons egter inderdaad meer afhanklik van tegnologie gemaak! Vir die generasie wat beleef het hoe tegnologie vanaf ‘n pen, papier, tikmasjien en bemande telefoonsentrales ingefaseer is tot by persoonlike rekenaars, slimfone, oproepsentra en sagtewaregedrewe besigheidsprosesse, was die leuse altyd gewees – tegnologie moet vir ‘n mens werk, dit is nie die mens wat vir tegnologie werk nie. Is dit nog so? Met die koms van die nuwe tegnologieë het die mensgerigte tegnologie verander na … hoe kan meer besigheid goedkoper en vinniger gedoen word. Hoeveel mense het al die frustrasie ervaar om ‘n rekeningfout deur ‘n oproepsentrum reg te stel. Generiese prosesse word gevolg, en as jou situasie verskil van die generiese proses dan ontstaan daar allerhande probleme. Oproepe na ‘n oproepsentrum, wat enigiets van minute tot ure kan duur, word op die kliënt se onkoste gedoen. Dan praat ons nie eers van telefoniese bemarking wanneer jy tydig en ontydig geskakel word met aanbiedings wat jy nog nie agtergekom het jy misloop nie. Dit wil dus lyk asof daar ‘n onderskeid getref kan word tussen nuwe tegnologie wat tot voordeel van die staat en groot maatskappye geïmplementeer word en daardie tegnologie wat voordele inhou vir die gewone man, óf vrou, op straat. In plaas van om te fokus op die onderskeid tussen die voordele en nadele van tegnologie vir die staat teenoor die individu, wil ons in hierdie artikel konsentreer op hoe ons afhanklik geword het van tegnologie.

Kan KragDag se strewe van “doen-jou-eie-ding” werklik met vooruitgang en nuwe tegnologie versoen word?

Ons staan midde die Vierde Industriële Revolusie – ‘n industriële revolusie waar die grense tussen fisiese, digitale en biologiese sfere vervaag en só aanleiding gee tot nuwe tegnologieë. Hierdie nuwe tegnologieë word gesien as sinoniem met vooruitgang en kan of móét mense van hulle daaglikse sleurwerk bevry. Dit maak baie take vir mense makliker wat tot gevolg het dat dit vir hulle moontlik word om eerder op die belangrike goed in die lewe te konsentreer. Wat in wérklikheid gebeur en wat ons nie altyd raaksien nie, is dat ons baie afhanklik geword het van tegnologie en dat baie van die vaardighede, waarop ons eens op ‘n tyd pyl getrek het, oorbodig en uitgedien geword het. Ons kan onmiddellik dink aan die meeste mense wat nie meer ‘n pen- of potloodvaardigheid het nie, nie meer self kan spel nie, óf kan hoofrekene doen nie.

Afhanklikheids- en dwanggevolge:

Daar is egter ‘n hele klomp ander voorbeelde waar tegnologie direkte en selfs onbedoelde afhanklikheidsgevolge het, maar ook dwanggevolge. ‘n Paar gedagtes en voorbeelde hieromtrent word genoem:

  • In die VSA is daar baie bestuurders wat nie ‘n voertuig met handratte kan bestuur nie. Minder as 3% van die voertuie in die VSA het handratte teenoor die meer as 80% van motorkarre in Europa en Asië. Die situasie in die VSA inhibeer menslike interaksie met die voertuig wat hulle meer afhanklik maak van die tegnologie – in hierdie geval outomatiese voertuie. Beoordeel die probleem aan die hand van die inherente onaanpasbaarheid van mense en die moontlikheid van ‘n ongeluk as ‘n bestuurder onbeholpe en ongemaklik agter die stuur is.
  • Sommige motorvoertuie word toegerus met tegnologie wat die bestuurder waarsku, ten einde stampe te vermy, wanneer daar ‘n obstruksie of hindernis voor of agter die voertuig is. Tru-sigkameras help met veilige parkering. Ander tegnologieë weer, stel motorvoertuie instaat om hulself te parkeer terwyl daar stelsels is wat onoplettende (distracted) bestuurders waarsku wanneer hulle te na aan ‘n ander voertuig beweeg, hulle sitplekgordels nie vas is nie óf wanneer hulle oor ‘n selfoon praat. In sommige voertuie is daar volgingsapparaat in ‘n voertuig geïnstalleer wat die eienaar van die voertuig se krediteure in kennis kan stel waar die voertuig is. Al hierdie tegnologieë veroorsaak dat die bestuurders minder beheer oor hulle voertuie het.

Die vraag wat gevra kan word is: “In die geval van voertuie, wat as ‘n norm hulself bestuur, sal ‘n volgende generasie bestuurders enigsinds nodig hê om te kan bestuur indien Kunsmatige Intelligensie (AI) dit perfek kan doen?” Waarskynlik nie – todat die motorvoertuig aan sy passasier sou kommunikeer dat, weens een of ander krisis,  hy of sy nie vandag toegelaat word om na ‘n sekere bestemming te reis nie. Hierdie krisis kan onder meer insluit internet-, kommunikasie- en kragonderbrekings vanweë natuurrampe, sonuitbarstings (sien die Carringtonvoorval), menslike vyandelikhede en vele meer. Dit is dus veral in ‘n krisissituasie duidelik hoe belangrik hierdie sogenaamde nuttelose vaardighede word wat dalk nodig is vir oorlewing. ‘n Ander scenario is miskien wanneer beheer oor jou voertuig geneem word by wyse van afstandsindringing (hacking). Sal die bestuurder in staat wees om self die voertuig verder te hanteer?

Ons kan ook dink aan vliegtuie wat onder outomatiese vlugbeheer en landingsinstumente sonder ‘n vlieënier kan opstyg, navigeer en land. Tog sal baie min passasiers gemaklik wees om sonder ‘n gekwalifiseerde vlieënier van vlees en bloed ‘n vlug te onderneem.

  • Eenvoudige vaardighede soos om jou eie pad te soek en te vind word deesdae as ‘n norm uitgekontrakteer na jou slimfoon of GPS-navigasiestelsel. ‘n Geval is opgeteken waar Google Maps se rekenaarbediener lyn-af geraak het en waar gebruikers selfs in hulle eie tuisstede totaal gedisoriënteer geraak en verdwaal het!
  • ‘n Meer sinistere voorbeeld van die gevare en risiko’s van tegnologie-afhanklikheid is waar ons, ons geheue en waarneming uitkontrakteer aan ‘n verwysingsplatform soos byvoorbeeld Google. Dit gebeur wanneer jy ‘n inligtingstuktuur opbou om jou kennis te verbreed, jou argumente en feite te staaf, óf jou geheue verfris deur na Google te verwys. Inligting word aangebied wat volgens sekere algoritmes geprioritiseer word, wat nie noodwendig volgens akkuraatheid en relevansie geskied nie. As jy ‘n gebeurtenis of feite van ‘n gebeurtenis, waarvan jy kan onthou sou Google-soek, maar wat volgens Google nie bestaan nie, het daardie gebeurtenis werklik gebeur en is die feite waar? Kan jy jou op daardie gebeurtenis en feite beroep sou dit nodig wees? Hierdie scenario begin inderdaad ooreenkomste toon met ‘n geheue-sinkgat, ‘n konsep wat bekend is vanweë George Orwell se distopiese (teenoorgesteld van utopies) roman, 1984. In hierdie roman herskep die Party se Minister van Waarheid stelselmatig historiese dokumente om die geskiedenis volledig en onnaspeurbaar te herskryf ten einde só die Staatspropoganda te ondersteun. Hoe sien ons dit nie vandag reeds in Suid-Afrika gebeur wanneer geskiedenis herskryf word nie!

‘n Ander verskynsel op Google en ander soekenjins wat mense ‘n rat voor die oë draai is die algoritme wat inligting na jou kanaliseer op grond van vorige soektogte. Vir jou kan dit begin lyk asof jóú argumente die enigste is wat bestaan en só word jou wêreld net al hoe kleiner en kleiner.

  • ‘n Belangrike onderdeel van rekenaar- en sagtewaretegnologieë is die gebruik van algoritmes om sekere prosesse uit te voer. ‘n Algoritme is ‘n volgorde van instruksies ten einde ‘n probleem op te los of ‘n besluit te neem. Algoritmes wat soveel van en in ons lewe dikteer, word waargeneem as onpartydig, neutraal, gevoelloos en selfs klinies. In werklikheid word dit deur menslike programmeerders daargestel wat elkeen ‘n eie waarde en motivering het. Alhoewel dit in die meeste gevalle skadeloos is, soos byvoorbeeld ‘n navigasietoepassings om jou op die mees direkte roete van punt A na punt B te neem, kan daardie algoritme ander gevolge hê indien besighede sou betaal vir die voorreg om om op daardie roete geplaas te wees.

Algoritmes het ‘n definitiewe vooroordeelgeneigdheid indien dit  in diens van ‘n dophoustaat (surveillance state) staan. Gelaatsherkenningstegnologie het probleme om gelaatsherkenning van nie-witgesigte te doen en indiensnemingsalgoritmes diskrimineer weer teen arm mense. In ‘n poging om vir hierdie tegnologiese tekortkomminge te kompenseer word inligting skeef getrek, wat ‘n bizarre vorm van sosiale regverdigheid tot gevolg het.

  • Woordkeuses wat ons maak word in ‘n groot mate deur tegnologie beïnvloed.  So is daar sagtewarefunksies wat jou spelling korrigeer en jou woorde en selfs sinne vir jou voltooi. Wat sal gebeur as mense oor ‘n tydperk van ‘n aantal jaar aan hierdie tegnologiese toepassings gewoond raak? Sal dit vir mense moontlik wees om sonder hierdie sagteware te funksioneer? Verder veroorsaak tegnologietoepassings dat die dominansie van Engels wêreldwyd gevestig word. Voeg hierby nog die implementering van 5G-tegnologie met sy uitgebreide IoT vermoë, stem- na skedeltegnologie asook Elon Musk se Neuralink – waarmee gedagtes in ‘n individu se verstand geplant kan word. Hierdie kan meer as net afhanklikheid veroorsaak – dit kan ‘n vorm van slawerny tot gevolg hê!
  • Tegnologie is ‘n middel tot wonderlike gevolge, maar ‘n interessante gevolg van tegnologie is dat tegnologie mense meer ongeduldig maak. Mense verloor hulle geduld as hulle langer as 16 sekondes moet wag vir ‘n webbladsy om af te laai óf as hulle 22 sekondes moet wag voor ‘n fliek begin aflaai. Indien mense nie binne 90 minute ‘n antwoord op ‘n vonkpos kry nie is die wag te lank! Ongeduld gee baie keer aanleiding tot angstigheid en spanning wat sekerlik sielkundige, gesondsheids- en sosiale effekte het.

Nog ‘n onbedoelde gevolg hiervan is dat mense ‘n onvermoë het om alleen met hulle eie gedagtes te wees en dat mense se aandagspan verkort. Sommer gou-gou reik persone na hulle slimfoon as hulle voel hulle aandag word nie geboei nie, of dat hulle verveeld is. Ongelukkig is hulle fokus en konsentrasie baie oppervlakkig omdat hulle gedurig op soek is na iets nuuts. ‘n Verdere gevaar is dat die tong-in-die-kies opinie van die skrywer Irving Stone omtrent die politikus William Jennings Bryan vir gewone mense waar kan word. Van Bryan het Stone gesê:  “His mind was like a soup dish, wide and shallow; it could hold a small amount of nearly anything, but the slightest jarring spilled the soup into somebody’s lap.”

Tegnologie veroorsaak ook dat mense nie meer direk met mekaar kommunikeer nie. Dit wat gekommunikeer word, word ook geïnhibeer. So sensureer Facebook en Twitter persone wat onaanvaarbare politieke menings het. Interaksie met vriende aanlyn is nie dieselfde as as interaksie in die werklike lewe. Te veel tyd op sosiale media word verbind met depressie, angstigheid, eensaamheid. Daarteenoor veroorsaak minder tyd wat met werklike vriende gespandeer word dat die risiko van dementia vergroot word.

Die internet is aanvanklik as ‘n militêre projek onderneem wat as ‘n dophou- (surveillance) werktuig begin het. Dit moet ons in gedagte hou as ons ons onafhanklikheid prysgee en beheer oorgee aan hierdie tegnologie. Hou in gedagte dat indien ‘n owerheid ‘n tegnologiese beheernetwerk wil implementeer, móét hulle diegene wie hulle wil beheer oortuig dat hulle dit benodig, dit graag wíl hê en dat hulle nie daarsonder kán klaarkom nie. Dit werk selfs nog beter as mense wérklik nie sonder die tegnologie kan klaarkom nie. Toegegee, tegnologie het baie voordele, maar wanneer tegnologie onbevraagtekend omarm word, beroof dit ons dalk van ons menswees nie? Die mensweesgedagte is miskien volgens voorstanders van kunsmatige intelligensie ‘n tekortkoming, eerder as ‘n navolgenswaardige oogmerk, maar wil ons graag met ‘n masjien saamsmelt? Wil ons regtig ‘n bestaan as  humanoïdes voer?

Gevolgtrekking:

Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat slaafse navolging van nuwe tegnologie nie noodwendig beteken dat jy jou eie ding doen nie. Tegnologie is egter ook wyer as net rekenaars met sensors wat aan ‘n databasis gekoppel is en wat mense monitor en beheer. So is daar is tegnologieë wat mens onafhanklik maak in terme van energie, mediese sorg, onderrig en opleiding, voedselproduksie, skoon water, en ook vele ander.

Miskien is daar tog ‘n bladsy uit die boek van Ted Kaczynski wat ons hier ter harte kan neem. Sy waarneming is dat vordering in tegnologie tot ‘n verlies van vryheid lei, maar ook ‘n verlies aan genoegdoening en tevredenheid in ons lewe. Laat óns dan eerder tegnologie aanwend om ons eie ding te doen – om ons vry te maak, al is dit net om ongevraagde beheer deur middel van tegnologie oor ons, teen te staan.

Erkennings:

https://www.rt.com/op-ed/469540-technology-takeover-eclipses-skills-survival/

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————-

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

3.40 avg. rating (70% score) - 5 votes