Deel die artikel met jou vriende:

Die gure weer op die Donderdag en Vrydag van die ekspo kon aan duisende mense se entoesiasme geen afbreuk doen om Sakeliga KragDag 2018 by te woon nie en is die ekspo vanjaar deur 15 700 mense bygewoon.

 

Aan verskeidenheid was daar hierdie jaar ook weer geen tekort nie. Tema-uitstallers het ‘n magdom oplossings vir ‘n selfstandige lewenstyl aangebied:

  • van sonkrag tot batterye.
  • van hoe om jou verlore hitte in elektriese energie te omskep, tot elektriese motors en selfs Suid-Afrika se eerste eie elektriese plaasbakkie.
  • van waterpompe en waterstoor, tot rioolwater herwinning.
  • van diefstalbestandheid van jou boorgatpomp en sonpanele, tot gewere en patrone.
  • van tonnels en voedselverbouing, tot ‘n gesondheidslewenstyl.
  • van eenman plaasimplemente, tot toekomstegnologie.
  • van entrepreneurskap, tot gemeenskapsnetwerke.
  • van voertuigbande en -onderdele, tot vragmotorsleepwaens.
  • van herwinning, tot nuutskeppings.
  • van tuisleer, tot tersiêre studies.
  • van kettingsae, tot outonome grassnyers.
  • van nutsgoed, tot vernuftige masjiene.

Aan die genotkant was daar net soveel verskeidenheid:

  • vir die kinders was daar enige iets van boeresport, ‘n spookhuis en hindernisbaan, tot laseroorlog.
  • Baardman se baardkompetisie in die biertuin met spogbaarde in die kategorieë vir Kragbaard, Boerbaard, Skoubaard en Bokkapater.
  • sowat vyftig verskillende kosse en knibbelgoed, van peusel tot poeding en van calamari tot spitbraai.

In die junior entrepreneurskompetisie het die jongelinge uitgeblink met besighede soos byeboerdery, skaapskeer, ‘n koekiebakkery en selfgemaakte vuuraanstekers.

In die KragDag Raadsaal tent is verskeie aanbiedings en paneelbesprekings gedoen en deur lewendige uitsendings op Facebook uitgesaai (waar dit steeds beskikbaar is) en is dit in sommige gevalle deur tot soveel as ‘n duisend mense aangehoor. Sommige lesings was prakties soos oor besproeiing, die inrig van ‘n eetbare tuin en entrepreneurskap, ander het gehandel met aktuele kwessies in die land, soos veiligheid, grondgryp, opvoedkunde en die ekonomie en nog ander was gemik op vryheidsfilosofie en -tegnologie, soos die rol van gemeenskappe, ‘n libertariese lewensbeskouing en die vooruitsigte van eksponensiële tegnologie. (Die Raadsaal-aanbiedings sal ook binnekort op YouTube geplaas word – kyk uit vir aankondigings hieroor in die KragDag nuusbrief.)

Daar is ook vanjaar geskiedenis gemaak met die kLiber, ‘n blokstring kriptografiese betaalmiddel (amper soos Bitcoin), waarvoor besoekers hulle fone as beursie kon gebruik om transaksies, sonder enige transaksiekoste, met verskeie uitstallers tydens die KragDag ekspo aan te gaan. Hierdeur het besoekers as te ware die geleentheid gehad om reeds deel te neem aan die toekoms. Weens kort kennisgewing het min mense vanjaar daarin gedeel, maar dit was ’n waardevolle geleentheid om hierdie tegnologie te toets. (Persone wat nog kLibers in hulle besit het, kan tot 31 Oktober 2018 hulle kalibers terugruil vir Rande, aangesien die kLibers wat slegs vir die toetsfase uitgereik is dan verval – besoek www.kLiber.co.za vir aanwysings. Moet egter nog nie nou al van jou kLiber (Fortress) beursie ontslae raak nie, want daar word nog groot beplan vir die toekoms van die kLiber.)

Met Sakeliga Kragdag 2018 agter die rug, is die KragDag organiseerders reeds besig met planne en nuwe inisiatiewe vir volgende jaar se ekspo wat DV van 8-10 Augustus 2019 sal plaasvind.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.00 avg. rating (82% score) - 1 vote