Deel die artikel met jou vriende:

Marthinus Jacobus Oosthuizen het op ‘n groot veeplaas in die distrik Uitenhage grootgeword. Sy ouers het hulle veral op perde en beeste toegelê en Tienie het hier ‘n liefde vir perde gekweek. As tiener is hy en sy gesin saam met Gerrit Maritz se trek oor die Grootrivier tot in die huidige Vrystaat. Piet Retief word na sy aankoms in 1837 op Thaba Nchu verkies as Goewerneur van die Emigranten Boeren en Tienie se vader word verkies as mede-Volksraadslid. Hierna trek die Oosthuizens in Desember 1837 saam met Retief na Natal.

Die moorde by Dingaan se kraal en Bloukrans

Tienie se vader en twee van sy broers, Johannes en Jacobus, vergesel Piet Retief tydens sy tweede besoek aan die Zoeloe-koning Dingaan, om onderhandelinge oor die aankoop van grond vir die stigting van die Republiek Natalia te finaliseer. Tienie se vader was een van die drie Boere-getuies wat op 4 Februarie 1838 die aankoop-traktaat met Dingaan onderteken het. Op 6 Februarie 1838 word Retief en sy hele geselskap, deur Dingaan vermoor.

Onbewus van die moorde op Retief se geselskap, het die grootste deel van die verskillende trekke verspreid uitgespan gestaan, langs die Bloukrans- en Boesmansriviere, by Doornkop en by Moordspruit suid van die Tugela. Gedurende die Saterdagnag van 17 Februarie 1838, word 40 Boeremans, 56 vrouens en 185 kinders sowel as 250 kleurlingbediendes deur die Zoeloes vermoor.

Die 19-jarige Tienie was met sy moeder en ‘n klompie ander Trekkers in ‘n kleinerige laer ‘n ent af langs die Bloukransrivier, nie ver van Van Rensburg se trek nie. Toe hulle geweerskote hoor, weet hulle nie wat om daarvan te maak nie. Nie te lank na die eerste skote nie, kom ‘n man te perd aangejaag en waarsku oor die Zoeloes se brutale moordtog op ander laers. Die osse word gou ingespan en Tienie neem sy moeder na ‘n veiliger laer. Hy wou eers gaan kyk of hy hulle perde, wat daar naby gewei het, in veiligheid kon bring en spring haastig met sy geweer en kruithoring op sy perd, Swartjie. Op pad ontmoet hy egter die voorpunt van die Zoeloe-aanvallers. Tienie spring van sy perd af, laai haastig en skiet, bestyg en skiet weer.

17 Februarie 1838 – Tienie se heldedaad

Tienie besluit toe om die ander laers te gaan waarsku en om hulp te verleen.  Al skietende vind hy sy weg in die rigting van die vasgekeerde Van Rensburg- en Pretoriustrekke. By die waens aangekom, vind hy die kamp heelmal verlate en dat almal na ‘n koppie gevlug het, waar hulle hul dapper teen die moordbendes verdedig het. Die 15 manne van die Van Rensburgtrek het nie tyd gehad om laer te trek nie en die gesinne het teen die koppie uitgevlug vir skuiling. Die Zoeloes het tussen die kamp en die koppie saamgetrek. Aan die een kant was die koppie beskerm deur ‘n krans waarteen die Zoeloes nie kon uitklim nie. Die Trekkers het hulself agter groot rotse verskans en die horde aanvallers met geweervuur op ‘n afstand gehou.

Tienie het so naby aan die koppie gekom dat, toe die Van Rensburgs hom tussen die vyand gewaar, hulle kon roep dat hul ammunisie gedaan is. Hans van Rensburg vra hom om lood en buskruit in die laagte by die waens te probeer kry – daar was ‘n voorraad op Pretorius se wa. Die onverskrokke jong man het eers met doodsveragting ‘n paar Zoeloes doodgeskiet en toe omgedraai en ten aanskoue van almal wat in uiterste angs verkeer het, sy weg terug na die waens gebaan,.

By die wa aangekom gryp hy twee swaar sakke koeëls en kruit uit die wakis. Met sovéél ammunisie as moontlik oor sy saal vasgebind, gooi Tienie drie kruithorings oor elke skouer en gee sy perd vrye teuels en jaag terug teen die koppie uit. Te midde van die vyand se strydgedreun en die angskrete van die vasgekeerdes, het hy met sy geweerkolf weer sy pad oopgeveg deur die omringende Zoeloe-aanvallers, wat gewapen was met knopkieries en steek-assegaaie. Tienie moes deur ‘n gladde sloot jaag. Die mense op die koppie was bevrees dat sy perd daar sou gly en val en hulle beduie ‘n pad waardeur hy die hoogte van die koppie sou kon bereik. Die blydskap met sy aankoms was groot onder die vasgekeerdes, maar die koeëls en kruit moes dadelik uitgedeel word om die geveg voort te sit. Op wonderbaarlike wyse, sonder ‘n letsel, kon hy die kruit en koeëls aan die Van Rensburgs besorg.

Ná nog ʼn paar aanvalle van die Zoeloes, voeg tien Boere van ander laers, onder aanvoering van Charl Celliers, hulle by die Van Rensburgs se stryd. Nou word die vyand van twee kante met gedugte geweervuur bestook. Met Tienie en die ander aankomelinge se hulp, duur dit nie lank voordat die Zoeloes begin huiwer nie. Die aanvalle word gestuit. Een van die Zoeloe-aanvoerders, Manzimdada, sneuwel, wat verder aanleiding gee dat hulle begin terugval. Cilliers sit die Zoeloes met ‘n klompie perderuiters agterna en talle word doodgeskiet.

Hierna volg een van die mees bewoë taferele van die ganse Groot Trek – die vroue het hul redder eenvoudig oorweldig en sommer so met nagkabaai en al, hom om die hals geval, gesoen en trane van dankbaarheid gestort. Hierdie grootse daad het Marthinus Oosthuizen in die voorste ry van Voortrekkerhelde geplaas, veral onder die jongmense. Op hierdie stadium was Tienie nog onbewus daarvan dat sy vader en twee broers, saam met Piet Retief en sy kommissie, by Dingaanstat vermoor is.

Tienie vertel self lateraan, dat alhoewel die Van Rensburgs probeer het om vir hom ‘n pad oop te skiet, was dit al asof die Zoeloes vanself oopgemaak het om hom deur te laat. Hy kon hom nie herinner dat daar ‘n assegaai teen hom gerig was nie. Later het Tienie die aandoenlike toneel soos volg beskryf: “Die mense was almal in hul nagklere, want toe hulle van die aanval bewus word, het Hans van Rensburg die teenwoordigheid van gees gehad om sy mense almal na die koppie bokant die kamp te neem, vanwaar hulle makliker op die vyand kon skiet.”

Op 20 Julie 1838 kondig Eerwaarde Erasmus Smit die drie-Sondagse huweliksgebooie van Marthinus Jacobus Oosthuizen en Aletta (Lettie) Bernhardina aan, die sewentien-jarige dogter van Johan Bernhard Rudolph en Elizabeth Susanna Fourie, ook uit die omgewing van Uitenhage. Hierdie blonde-blouoog nooi se skalkse uitdrukking om haar mond en oë, het altyd haar opgewekte humorsin verraai. Na die derde Sondag het Eerwaarde Erasmus Smit hulle op 5 Augustus 1838, te Veglaer naby die huidige Estcourt, in die huwelik bevestig.

Die bruidspaar het met twee ossewaens by Maritzdam aangekom, waar hulle by die Van Rensburgs sou tuisgaan en word met ʼn sarsie geweervuur verwelkom. Ai, hoe dan anders! Dis dan die einste Tienie Oosthuizen wat hulle vyf maande tevore van ʼn gewisse marteldood gered het, wat nou hier by hulle sy grootste dag van sy lewe kom vier! Die Van Rensburgs het uitgehang om hierdie huwelik so luisterryk as moontlik te laat geskied!  Wie sê dat die Voortrekkers nie kon vrolik wees en fyn passies maak nie?

Tienie Oosthuizen se wedervaringe ná Bloukrans

Gedurende April 1838 neem Tienie deel aan die Slag van Italeni onder Hendrik Potgieter se bevel. Hy was een van nagenoeg tien manskappe wat weggebreek het toe Potgieter passief aanskou het hoe Uys se kommando met die Zoeloes slaags geraak het.

Op 13 Augustus ry Tienie veld toe, na die Trekkers se vee, en word deur die Zoeloes van die laer afgesny.  Die krygers omsingel die laer vir drie dae buite skietafstand en steel al die vee en osse met die terugtrek.  Hans van Rensburg snel Oosthuizen se mense dié keer te hulp met osse sodat hulle Maritzdam by die Klein Tugela kon bereik.

Tienie was ook lid van Andries Pretorius se kommando wat Dingaan se leër op 16 Desember 1838 tydens die Slag van Bloedrivier verslaan het.

Na hierdie stormagtige tyd bewerk Tienie sy moeder se plaas naby Estcourt en begin om waens te bou.  In 1842 vestig Oosthuizen hom, met sy gesin, aan die Boesmansrivier en in 1859 betrek hulle die plaas Enon naby Lindequesdrift by die Klein Tugela waar hulle vir die volgende 37 jaar geboer het. Hy het ‘n aandeel gehad in die stigting en instandhouding van die gemeente te Pietermaritzburg. Marthinus Oosthuizen het ontwikkel in ‘n vermoeënde boer, vername perdeteler en gewilde persoon in sy omgewing.

Toe die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 uitbreek, verskaf hy perde sonder betaling aan die Boere. Op hierdie stadium was Marthinus ‘n Britse onderdaan. Oom Tienie is op 2 April 1897 oorlede.

 

4.29 avg. rating (85% score) - 7 votes