Tuisonderwys – nie die tweede beste opsie nie

Deel die artikel met jou vriende:

Tuisonderwys het ‘n redelike jong geskiedenis in Suid-Afrika – dit is eers in 1995 gewettig en voor dit was daar ouers wat selfs hiervoor in die tronk beland het. Dit is egter besig om teen ‘n geweldige tempo te groei, nie net hier nie, maar reg oor die wêreld. Dit is bitter moeilik om die werklike syfers vir Suid-Afrika te bepaal, maar alle aanduidings is dat daar tans meer as 100 000 tuisskolers is (13% van die gesinne wat die KragDag ekspo bygewoon het en wat kinders van skoolgaande ouderdom het, het aangedui dat hulle tuisonderwys doen). Vandag is tuisonderwys egter weer in die visier van die regering, met dinge soos die voorgenome BELA (Basic Education Laws Amendment) wetgewing.

Mense wat hulle kinders uit skole haal om hulle tuis te onderrig, begin dikwels met reaktiewe redes soos swak gehalte onderwys, die boeliekultuur in baie skole en so meer, maar dit duur gewoonlik nie baie lank nie, of hulle motivering kry baie meer diepte. Vir meeste ouers wat vir hierdie onderwysopsie kies,  is dit nie ‘n tweede beste opsie nie – dit is juis omdat hulle nie net lippediens wil lewer daaraan dat hulle die beste opvoeding vir hulle kinders wil gee nie … want wie ken alle fasette van jou kinders, en wie het meer erns met hulle, as jyself.

Tuisonderwys is veel meer as ‘n keuse vir ‘n spesifieke onderwysmodel – dit is in werklikheid ‘n keuse vir ‘n alternatiewe lewenswyse, wat ‘n wesenlike verskil aan ‘n gesin maak en nie net aan die kind se akademiese kennis nie. Dit verander ‘n gesin:

  • se prioriteite,
  • se tye wat hulle by die huis is,
  • se entrepreneuriese uitkyk,
  • se energie(elektrisiteits-)verbruikspatrone (hulle is bv. nou in die middel van die dag by die huis wanneer sonkrag die beste benut kan word),
  • se veiligheid (bv. meer by die huis, minder vaste patrone waarop inbrekers kan reken, minder vreemdes nodig vir huistake),
  • se inkomste (bv. moontlike verlies aan tweede salaris vir huishouding, verandering in skooluitgawe en selfs entrepreneuriese aktiwiteite van kinders),
  • se eetgewoontes,
  • se beoordeling van die rol van die staat,
  • se lewens- en wêreldbeskouing, en
  • die gesins- en gemeenskapsdinamika.

Tuisonderwys is interessant genoeg, in vandag se tyd van verbrokkelende huwelike, ook die gom wat ‘n gesin bymekaar hou, ook vir ‘n volgende generasie. ‘n Praktiese voorbeeld is hoe die verwysingsraamwerk vir skoolgaande kinders oorwegend hulle klas- of ouderdomsgroepmaats is, terwyl dit opmerklik is hoe jong tuisonderwys kinders dikwels, as by iemand gekuier gaan word, na ‘n kuier by al die lede van die gesin verwys. Soliede gesinne vorm die boublokke van ’n soliede gemeenskap en samelewing – in vandag se wêreld met verskynsels soos “social justice warriors” en “snowflakes” kan ’n mens ‘n karakterlose kluit terapeuties pamperlang net soveel jy wil, maar jy sal nie daarmee ‘n stewige huis kan bou nie.

Jy het seker by hierdie tyd opgemerk dat die artikel tot hier nog min fokus op akademiese kennis geplaas het – die bou van die karakter en inbors van die kind is vir tuisskolers egter dikwels belangriker as die akademiese punte of papiersertifikaat wat die kind behaal. Dit beteken egter nie dat kennis onbelangrik is nie, inteendeel, dit is essensieel vir kinders om oorlewingsgereed en leef- en floreergereed te wees vir die wêreld waarin ons ons bevind. Die huidige skoolmodelle berei kinders egter in baie gevalle perfek voor vir ‘n beroepslewe … in die jaar 1990. Volgens projeksies gaan 65% van die kinders wat vanjaar vir die eerste keer op die skoolbanke sit, in ‘n beroep beland wat vandag nog nie eers op die radar verskyn nie. Die kreatiwiteit van kinders behoort dus gekoester te word en hulle behoort aangemoedig te word om entrepreneuriese probleemoplossers te wees vir die waarskynlikheid dat die wêreld wesenlik anders gaan lyk as waarvoor skole kinders normaalweg programmeer.

William Butler Yeats het by geleentheid gesê: ”Onderwys is nie die volmaak van ’n emmer nie, maar die aansteek van ’n vuur”. Tuisonderwys verskaf so ‘n geleentheid waar ‘n kind nie as ‘n produksielot (of “batch”) gesien word nie (moenie die kyk van hierdie video oor veranderende onderwys paradigmas mis nie), maar waar daar die geleentheid is om die verskeidenheid in die skepping beter te koester en te ontgin, deur met elke kind te fokus op sy belangstellings, persoonlikheid, behoeftes, vaardigheid en so meer.

Met opvoeding behoort ons egter nie by die waarde vir die indiwiduele kind vas te haak nie, maar moet ons ook na die effek op die samelewing kyk: Ron Paul, die 2012 VSA presidensiële kandidaat, het in sy afskeidsboodskap aan die kongres gesê dat van die snelgroeiende tuisskoolbeweging verwag kan word dat dit ‘n wesenlike bydrae gaan lewer tot die rewolusionêre hervorming wat benodig word om ‘n vrye gemeenskap te bou, aangesien daar nie van ‘n regeringsbeheerde skoolstelsel verwag kan word dat hulle die intellektuele ammunisie gaan verskaf om die toenemende magsentralisasie wat mense se vryheid bedreig, teen te staan nie.

Die mooi van tuisonderwys is juis dat dit voorsiening maak vir verskeidenheid en aanpasbaarheid. Daar is wel sekere hoof benaderings/kategorie onderskeibaar. Besoek gerus www.sahomeschoolers.org as jy meer will weet oor die verskillende tuisonderwys benaderings – ek noem egter solank ’n paar:

  • Skool by die huis waar die skoolstruktuur en kurrikulum wat in skole gebruik word, bloot na die huis geskuif word.
  • Die klassieke model van die Trivium wat fokus op die drie aspekte van grammatika, logika en retoriek. Dit is die model wat vir die sukses van die westerse beskawing gesorg het en sluit in dinge soos klasieke tale (bv. Grieks en Latyn) en volg in alles die patroon van kennis, logiese beoordeling en beredeneringsvermoë.
  • Eenheidstudies wat begin by ’n sekere belangstelling en dan uitgebrei word na na ’n interdissiplinêre ondersoek oor vakgrense heen na verbandhoudendende onderwerpe bv. ’n spesifieke geskiedkundige figuur en dan die historiese milieu waarin hy geleef het en dan die staat waarin hy gewoon het, dan die tegnologie wat uit sy bydrae ontwikkel het.
  • Unschooling: Geen formele kurrikulum. Word in hoofsaak gedryf deur die belangstelling van die kind en word die wêreld as die klaskamer beskou.
  • Jy kan natuurlik ook ’n kombinasie van enige of al hierdie benaderings volg, maar die belangrike is dat elke ouer sy kind die beste ken om ’n besluit uit te oefen.

Indien jy belangstel om meer uit te vind oor tuisonderwys, kan jy gerus ook ’n draai maak by ‘’n tuisonderwys ekspo soos die een wat gehou word in die amfisaal op die Voortrekkermonumentterrein. Hier kry gesinne die geleentheid om te kyk watter kurrikulums, opvoedkundige hulpmiddels en ekstra leermateriaal beskikbaar is. Ook om advies te bekom ten opsigte van benaderings tot die opvoeding van kinders. Dit bied ook geleentheid om te skakel en te klankbord met ander ouers oor aspekte wat vir hulle problematies is. By ons opvoedkunde ekspo’s is daar ook seminaarlesings en werkswinkels met onderwerpe soos hoe om met tuisonderwys te begin en hoe om matriek te verwerf deur tuisonderwys en wat die statutêre vereistes is. Vir meer inligting besoek. www.homeschoolexpo.co.za.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.38 avg. rating (87% score) - 8 votes
By |2018-09-21T08:49:09+00:00September 20th, 2018|Categories: Opvoedkunde en Opleiding, Webjoernaal|Tags: , |3 Comments

About the Author:

3 Comments

  1. SW Fourie 2018-09-23 at 13:25 - Reply

    Goeie artikel.
    Wat van naskoolse aktiwiteite soos Sport , skaak , Robotika.

  2. Gehasi 2018-09-24 at 08:13 - Reply

    HP,, Goeie artikel. Ek het al in die 1960’s gekombineerde skoling op myself toegepas. Teen my graad 6 jaar (standerd 4) het ek al die hele reekse Kinders Van Die Wêreld en die Afrikaanse Kinderensiklopedie van voor tot agter deurgelees (Unschooling). Teen my graad 6 jaar het ‘n wonderlike wêreld vir my oopgegaan in die engelse afdeling van die Dorpsbiblioteek. Vandag is ek nie spyt nie. Ons vergeet die waarde van lees, lees en lees. Ons moet ons kinders vroëer leer lees, dan sal hul self momentum kry met die proses.

  3. Corline van Rooyen 2018-09-25 at 09:08 - Reply

    Interessante artikel – dankie! Sal graag meer wil weet oor kostes van byvoorbeeld boeke, ens. Ek weet van ouers wat nie die mas opkom met die kinders se huiswerk nie en mense aanstel om hierdie taak smiddae te verrig. Sal dit nie ook die geval wees met sommige ouers wat tuisonderrig wil doen nie?

Leave A Comment

*

code