Deel die artikel met jou vriende:

Die Coronavirussiekte, ook genoem Covid-19, is sekerlik op almal se lippe.

In landboukringe word daar ook gereeld van virus- en ook ander soorte siektes gepraat. Landboudiere moet betyds ingeënt word voordat ‘n siekte, van watter aard of oorsprong ookal, groot skade vir die boer en boerderygemeenskap berokken. Sekerlik is voorkoming, veral hier, altyd beter as genesing.

As dit egter ‘n siekte is wat die méns sonder ‘n vooraf waarskuwing tref, op ‘n skaal wat die ganse wêreld ruk met miljoene wat siek word en derduisende wat sterf, word elke individu op aarde hierdeur rampspoedig geraak. Dan lyk die bek-en-klouseerepidemie wat ons rooivleisbedryf nog onlangs verlam het na ‘n vulletjie.

Dit is ondenkbaar wat die langtermyneffek van hierdie pandemie gaan wees, onder andere weens die inperking van die grootste gros mense op aarde, industrieë en besighede wat tot stilstand gebring word, handel wat beperk word en werkloosheid wat weergaloos toeneem.  Alhoewel landbou, as ‘n noodsaaklike diensverskaffer, uitgesonder word as een van die bedrywe wat mag voortgaan met bedrywighede, is niks normaal nie. ‘n Klomp beperkings vertraag die normale oesprosesse en die bemarkingskanale. Kontantvloei word ‘n nagmerrie! Groot welwillendheid word egter deur ons land se welvarendes getoon deur die wat in geldnood is finansieel by te staan, maar dit sal nooit voldoende kan wees nie. Dit is nietemin toonbeelde van ‘n nuwe wyse om op ‘n manier welvaart te deel waarvoor ons dankbaar is. Ons word toegelaat om voort te gaan met ons boerderypraktyke en hieroor is ons dankbaar. Ons is op ons eie aangewese, want min kontak gebeur op ‘n persoonlike vlak. Gelukkig kan ons darem ‘n veearts besoek of ontbied.

Terug by ons alledaagse bestaan. Ek wil graag ‘n probleem wat ek onlangs ondervind het met julle deel …

Na 40 jaar wat ek met skape geteel het, het ek besluit om my skaapboerdery tot niet te maak en al my skape te verkoop. Dit was geen ligtelike besluit nie. Weens die baie faktore wat ‘n moderne skaapboer in die gesig staar, veral intensifisering wat baie deeglike bestuur verg en jou kostestruktuur skerp beïnvloed, is ek steeds van mening dat dit die regte besluit was. Tans boer ek met beeste.

Moet egter nie dink dat beeste ‘n probleemlose oplossing bied nie! Alhoewel ek lank reeds ook met beeste geboer het en weet dat jou bestuur hier ook mos deeglik moet wees, was ek verbaas deur ‘n siek koei met simptome wat ek gereken het ek is slim genoeg om op te los. Sy het aanhoudend slym gehad wat by die bek uitgeloop het. My eerste diagnose was dat sy iets giftig ingekry het. Ek dien gevolglik geaktiveerde koolstof toe, wat in die verlede nog altyd gewerk het.  Daar was geen verbetering nie. Sou dit miskien ‘n koorsreaksie wees? Ek dien vervolgens tetrasiklien toe. Die koei het ‘n kalf gehad en het normaal gevreet en wonder bo wonder nie veel massa verloor nie. Sy het egter ‘n soort roggel gehad wat ek as longprobleme beskou het en met Norotrim behandel het. Omdat ek het nie regtig geweet wat fout is nie het ek na twee weke vir Prof Cheryl McCrindle gevra om te kom kyk. Ek was stom van verbasing toe Prof McCrindle die koei se bek oopmaak en aan my die sere in die bek wys. Sy het dadelik die siekte as bloutong gediagnoseer. Bloutong by ‘n bees? Nog nooit gesien nie! My verbasing was nog groter toe ek Mönnig en Veldman se Handboek oor Veesiektes by Bloutong oopslaan en reeds in die eerste sin lees dat beeste ook bloutong kan kry! Ek was seker afwesig in die klas of hoe moet ek dit verklaar dat ek dit mis gelees het? Met die Prof se muti’s wat sy toegedien het en die opvolg-antibiotika wat sy vir my gelos het, het dit nogtans 4 maande geneem vir die koei om te herstel. Die kalf gaan ook goed aan, alhoewel daar ‘n effense agterstand te bespeur is.

Virusse is dus, soos in die geval van bloutong, goed wat groot verliese by mens en dier veroorsaak. Ek het skape verloor aan bloutong en tog het ek soms skape deurgetrek met ‘n Disprin. Daar is soveel variasies van die goed – soms wen jy, maar nie altyd nie. Moet dus nie verbaas wees vir vreemde goed wat jou diere en ook jou plante oorkom nie.

Ons glo daar sal uitkoms wees, maar waarskynlik nie gou nie. Kom ons was ons hande terwyl ons nou nie mekaar s’n kan vashou nie en bid vir mekaar.

Sterkte met die virusgeveg!

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes