Deel die artikel met jou vriende:

My gedagtes oor droogtes en water

Hulle sê om te skryf is ‘n kunsvorm. Terwyl ek my nou aan die skryfkuns waag,  behoort ek sekerlik tot die gilde van hierdie kunstenaars…

Nou ja, vir alle kunstenaars is daar sekerlik kategorieë wat wissel van buitengewoon, uitstekend, goed tot…  gemiddeld, swak of bloot vrot!

Ek bedoel die prodúk van die skryfkunstenaar, nie die persoon nie. Die kunstenaar self kan dalk as ‘n persoon uitstaan, maar sy skryfproduk is pateties en vrot. Net so kan ‘n vrot, kom ons noem dit eerder ‘n uiters onaangename siel, ‘n uitstaande woordkunstenaar wees!

As ek myself nou uitgee as ‘n skryfkunstenaar, sal my skryfstuk wel ook in genoemde kategorieë val. Hier kom die verantwoordelikheid van die leser in. As die skryfstuk jou nie aanstaan nie, of nie by jou byval vind nie, ignoreer dit, maar jy kan ook verder lees. As dít te veel moeite is… gebruik gerus jou snippermandjie. Einstein het ook meer as een snippermandjie per dag volgemaak!

Waaroor wil die uwe nou eintlik skryf? Wel, hy probeer nog om ‘n onderwerp te vind uit die menigtes wat die afgelope jaar in sy kop rondmaal. Uit vorige pogings het net een skryfstuk die lig gesien – die res… sonder om snaaks te wees – is gesteel, met rekenaar en al! Nou sit ek sonder enige rekord, hetsy sagteskyf, hardeskyf, geheuestokkie of watter tegnologiese wondermedium  ookal. Tans is ek meer vaardig met ‘n pen in die hand.

O ja, amper vergeet ek! ‘n Aantal van my pennevrugte is deur Heineman Uitgewers uitgegee toe ek deel was van ‘n span wat Landbouwetenskaphandboeke die lig laat sien het – Graad 10 tot 12.

Vanoggend spreek ‘n onderwerp my aan wat seker as holrug gery beskou kan word. As jy geraai het dat die onderwerp handel oor die uitgerekte droogte, waterskaarste en boerdery-aktiwiteite, is jy heeltemal in die kol. Droogtehulp vanuit alle oorde is slegs ‘n druppel in die emmer, want die omvang van waternood het net eenvoudig buite menslike beheer geraak. Normale reënvalpatrone het verander, Oom Paul se verjaarsdag het gekom en gegaan sonder enige uitkoms!

Hier waar ek vandag, 24 Oktober, deur die veld in my kamp nommer 2 loop, knars die polle dat jy dit hoor raas. Ironies, met dankbaarheid wei my koeie en kalwers steeds met die hulp van byvoeding en is hulle in ‘n redelike kondisie – sommiges selfs in ‘n goeie kondisie. Die laaste reëns was op 24 April. Dit is in skrille kontras met hartverskeurende foto’s vanuit ander droogtegeteisterde gebiede in ons land waar daar geen graspol is nie, geen lewende diere in die veld is nie, en waar diere te sien is die ribbes van díe diere sigbaar. Hier by ons op Tweedragt het intussen uitkoms gekom na 4mm reën op 26 Oktober en 45mm op 2 November. Dit het hoop gebring, meer nog as die Springbokke se Wêreldbekeroorwinning. Maar ons weet ook dat ons veld baie verniel is vanweë herhaalde droogtes en dat dit lank gaan neem vir die veld om te herstel. Ons sal nog ‘n hele ruk moet voer om te verseker dat diere hulle kondisie behou.

My reënvalrekords oor 45 jaar toon 10 jaar siklusse, waar elke tiende jaar ‘n droogteperiode insluit. Tot dusver is die reënval onder die gemiddeld van 664 mm per jaar. As ons na uitsonderings kyk soos 2015 se 438 mm en 2014 se 902 mm, is reënval-voorspelling beslis ‘n uitdaging. Ruvoer word op die oomblik skaars en duur. Dit kan verstaan word as in ag geneem word dat in baie landbougebiede die ergste droogte in 100 jaar beleef word. Dit is ongekend dat eens welvarende boere nie meer met hulle boerdery kan voortgaan nie, dat banke nie meer lenings toestaan nie en dat kerke en gemeenskappe houers met lewensmiddele na gesinne in hierdie rampgebiede stuur.

Tans is ek besig om verse, waarmee ek wou teel te verkoop om vir voer vir die res van die kudde te betaal. Dit is nie wys om jou spaargeld hiervoor aan te wend nie, want ons weet nie wat vir ons voorlê nie. Dit kos ‘n klein fortuin om diere wat eers kondisie verloor het te laat herstel en weer dragtig te kry. Dit is dus noodsaaklik om ‘n kern te behou wat in ‘n goeie kondisie is.

My spesifieke omstandighede is egter nie vir almal beskore nie. Ander boere se diere het baie agteruit gegaan en die heersende voerskaarste laat hulle magteloos. Ongekende welwillendheid van menige voerskenkers kan duidelik op ons paaie gesien word. Duisende vragmotors met voerbale en mielies word in droogte-noodgebiede deur boere met trane van dankbaarheid ingewag. So ‘n droogte-toestand breek ‘n man se hart want elke boer voel verantwoordelik vir sy en sy arbeiders se gesinne. Ons gedagtes en gebede gaan uit na elkeen wat deur hierdie knellende droogte geraak word.

Waar kom hierdie droogtetoestande vandaan? ‘n Skoolmaat van my gedurende die sestiger jare, Cobus Olckers (Florida in die VSA) van Sterre en Planete faam (Sondae-aande op RSG), ‘n voorste kenner in die wêreld van die son, sê dat hy reeds in 1990 voorspellings gemaak het op grond van sy navorsing oor die son. Hiervolgens het hy voorspel dat ons afstuur op die globale weerverandering wat ons tans beleef. Volgens hom wou niemand hom toé glo nie!

Wat kan gedoen word? Boeke kan volgeskryf word oor hoe klimaatsverandering ons raak, maar waar begin mens? Ek word diep aangeraak deur die VulPro Organisasie wat ons bedreigde aasvoëlkolonies onder hulle vlerk ingeneem het. Hulle het reeds sowat 600 van die bedreigde krans- en witrugaasvoëls in die onlangse verlede gered. Hierdie belangrike skoonmaakmasjien van die natuur se voorbestaan word nie net bedreig deur elektriese skokke van kraglyne nie maar ook deur stropers wat hulle met vergiftigde dierkarkasse uitroei. Aasvoëls is effektiewe skoonmakers van die veld deurdat hulle karkasse van diere wat gevrek het aan siektes soos miltsiekte, dodelik vir mens en dier, binne enkele minute skoonvreet en so verspreiding van die siekte voorkom. Hulle nuutste bedreiging is klimaatsverandering omdat hulle moeilik daarby aanpas. Die uitsonderlike hitte werk verlammend in op die voëls en voorspellings dui daarop dat hulle binne 20 jaar uitgewis sal wees!

‘n Moontlike oplossing wat al jare nagevors is en reeds op beperkte skaal beskikbaar is, is ‘n droogtebestande mieliekultivar wat deur die destydse Monsanto (Dekalb) ontwikkel is en wat mielieproduksie onder baie droë toestande moontlik maak. Verder is daar tans ‘n inisiatief van Bewaringslandbou om deur minimum bewerking die koolstofpersentasie in die grond te herstel. Dit help om water beter in die grond te bewaar, wat plantproduksie onder droë toestande verbeter.

Gegewe die droogtetoestande kan ons onsself die volgende vraag afvra: Is daar regverdiging vir swembaddens, lowerryke tuine en groen gholfbane terwyl derduisende, eerder miljoene huishoudings nie water het nie?

Ek wil voorlopig afsluit met ‘n bydrae deur Prof Francois Durand van die Universiteit van Johannesburg. Hy is ‘n voorstander vir die produksie van rooivleis. Grasveld volgens hom het, vanweë die groot hoeveelheid kos wat dit produseer, ‘n groter biodiversiteit as reënwoude. Massas ruspes wat vlinders word wat daar voorkom is die hoofbestuiwers van plante. Vleilande is die mees doeltreffende waterfilters wat suiwer water deurlaat. Veengrond is ook natuurlike filters wat duisende jare oud is. Deur vleilande en ander aquifere te vernietig, veral weens onoordeelkundige myn- en landboupraktyke word natuurlike waterbronne besoedel en vernietig.

As ons in aanmerking neem dat landbou ongeveer 70% van die beskikbare water in die land gebruik, het ons ‘n reuse verantwoordelikheid om elke druppel te laat tel.

Hou dié spasie dop vir ‘n voortsetting van hierdie en soortgelyke onderwerpe…

5.00 avg. rating (95% score) - 2 votes