Deel die artikel met jou vriende:

Sedert ons vorige skrywe het daar in ons omgewing milde reëns geval en is daar ‘n beduidende verbetering in ons veld te bespeur. Dit is die eerste keer in baie jare dat ons te min beeste het vir al die gras wat beskikbaar is. Dit was dan ook gepas dat ons onlangs vir Frits van Oudtshoorn (skrywer en uitgewer van die briljante boek oor grasse van die RSA) by ons eerste byeenkoms van die Bronkhorstspruit Veestudiegroep kon ontvang. Sy kleurryke aanbieding op skerm van ons bekendste biome en spesieverskeidenheid is opgevolg met ‘n praktiese sessie van spesie-uitkenning in die veld. Dit is altyd lekker as die teorie en die praktyk mekaar ontmoet!

Vir my as grasboer het dit baie herinneringe opgeroep oor die jare van eksperimentering met grasse in my boerdery. Daarom wil ek hierdie artikel wy aan my liefde en belangstelling in gras.

Ek wil graag net opnuut in meelewing dink aan die boere wat nog steeds sonder gras sit weens die voortslepende droogte in dele van die Noord-Kaap. Hulle maak nog steeds staat op skenkings, wat uit die Noorde aangery word vanaf boere wat volop weiding het. Dit is verblydend om te sien hoe boere, met groot onkostes, mekaar bystaan. Self het ek al ervaar dat om te gee vreugde te weeg bring , nie net vir die ontvanger nie, maar ook vir die wat gee.

Om terug te kom na ons onderwerp, gras. Ons land het ongeveer 80% onbewerkte grond wat grootliks uit gras en bossies bestaan en waarvan die meeste deur vee en wild benut kan word. Ongelukkig is hierdie ongelooflike voedselbron oor baie jare nie reg bestuur nie. Dele daarvan is reeds in so ‘n mate beskadig dat dit nutteloos is vir weiding. In ons onmiddelike omgewing is daar kampe wat hoofsaaklik bestaan uit bankrotbos – sommige praat van slangbos –  wat nooit weer sal herstel nie, tensy daar groot onkoste aangegaan word om bespuiting (Brush Off®) of meganiese verwydering te doen.

Veld kan sodanig beskadig word dat herstel onmoontlik is. ‘n Voorbeeld hiervan word by Colesberg gevind waar ‘n Engelse Perdemag tydens die Anglo-Boereoorlog gehuisves is. In kort kom dit daarop neer dat ons ‘n groot verantwoordelikheid het om ons veld reg te bestuur.

Aanvanklik is verskeie beweidingstelsels bekend gestel wat daarop neergekom het dat gras vir ‘n kort tydperk bewei word waarna dit weer vir lank tyd rus. Dit help egter nie om in die verkeerde seisoen jou veld te laat rus terwyl dit in die groeiseisoen oorbenut word nie! Kennis oor veldbestuur is dus onontbeerlik as daar met veld en vee geboer word.

Ek wil egter nie nou op alle aspekte van veldbestuur ingaan nie. Daar is huidig verskeie modelle vir veldbestuur wat bestaan en hoë intensiteit beweiding is tans besig is om baie populêr te word. Manne soos onder andere Johan Zietsmann is hier op die voorpunt. Talle ander boere is reeds op ‘n stelsel waar elektriese verskuifbare heinings soos onder andere die Gallagher™ Electric Fence gebruik word.

Almal kan egter nie somaar na eie goeddunke na so ‘n weidingstelsel oorslaan nie, bloot omdat alle dele van ‘n plaas nie daarvoor geskik is nie. In my geval werk genoeg kampe met suipings en gange ten einde die vloei van die diere te vergemaklik baie goed.

Ek wil nou ‘n bietjie van my eie praktiese ervarings vertel, opgedoen in die tyd sedert 1972 toe ek met weidingsgrasse begin eksperimenteer het. My eerste eksperiment was met die sogenaamde Potch-mengsel wat uit die volgende grasse bestaan het: Smutsvinger (Digitaria Smutsii), Borseltjiegras (Anthephora Pubescens), Witbuffelgras (Panicum Maximum)  en Rhodesgras (Chloris Gayana).

Dit was ‘n pragtige gesig om die eksperimentele plot te sien op ‘n drie-kwart hektaar land, rooi kleigrond. Almal het kom kyk!

Maar, met die jare se ongekontroleerde beweiding deur skape en beeste het net die Smutsvinger oorgebly terwyl Dekgras, Tamboekie en Paspalum toegeneem het. Dit is te verstane, want die volgende eksperiment wat ek in groter kampe gedoen het, het soortgelyke resultate gelewer. ‘n Pragtige stand Rhodesgras is ook met skape bewei, maar nie genoeg laat rus nie. Dit het mettertyd verdwyn. Dieselfde het met Witbuffelsgras gebeur – daardie tyd was Green Panic die gekose kultivar. Toe ek oorslaan na Oulandsgras (Eragrostis Curvula) het ek gewensde resultate begin begin kry, omdat hierdie kultivar beweiding beter kon weerstaan. Ongelukkig is Oulandsgras ‘n minder smaaklike en voedsame gras as al die bogenoemdes. Dit gebeur egter dat Taaipolgras (Eragrostis Plana), ‘n indringer, ‘n mooi stand Oulandsgras uitdruk. Ek boer nou maar saam met die natuur en plant glad nie meer weidings aan nie. Die beeste vreet nou selfs die Taaipolgras tot in die grond met ‘n bietjie lek wat ek aan hulle verskaf.

O ja, amper vergeet ek om melding te maak van die ander, ou en nuwe gras-eksperimente wat ek onderneem het. Wat ‘n fiasko!

Die eerste “Wondergras” wat ons gaande gehad het was “Bana”. Ons val oor ons voete om steggies te gaan haal by Nylstroom en betaal ‘n plaas se prys vir ‘n sak! Ons plant in rye en die goed groei ‘n hond uit ‘n bos. Lieflike blaarryke weiding, jy kan hordes beeste aanhou per hektaar – dit is nou seisoen 1. Na seisoen 2 is die groeikrag egter minder. So gaan dit met elke seisoen agteruit totdat ons “Wondergras” verdwyn.

Die tweede “Wondergras” is “Groen Goud” – ook geplant met steggies. Omtrent dieselfde storie speel af en daar sit ons weer met die ou bekendes wat oorleef. Deur saam met die natuur te boer het my met die volgende graskultivars gelaat: Eragrostis Curvula, Eragrostis Plana, Kweekgras, Paspalum, Kikoejoe, Dekgras en Tamboekiegras.

Miskien het jyself stories oor suksesse (of mislukkings) oor die aanplant van weiding. Laat weet ons gerus.

Laat jou diere lekker wei in 2020!

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes