Deel die artikel met jou vriende:

Vleisproduksie is sekerlik een van die moeilikste aspekte van stedelike selfonderhouding.  Daar is soveel wette, munisipale regulasies en sosiale weerstand daarteen dat dit bykans onmoontlik word om diere as voedsel in die stad aan te hou.  Jy kan jouself net sowel afvra: Hoekom sou mens dan jou eie vleis in die stad wil produseer?  Ons sal mos altyd skaaptjops by die OK Bazaars daar om die draai tussen die Mobil Garage en Volkskas kan koop, nie waar nie?  En dan gaan ons braai terwyl ons na Spiekeries luister wat opgewonde die volgende sege van die Springbokke oor die radio beskryf.

Vir jonger lesers wil ek verduidelik: dit wat ek hierbo geskryf het was die realiteit waarmee ek grootgeword het, maar wat heeltemal verdwyn het – net soos enigiets wat jy vanselfsprekend vandag beskou.  Alles verander en die verandering is nie altyd beter nie.  Dink maar hoe goedkoop vleis dekades gelede was.  Toe ma soms spesiaal ‘n hoender vir Sondag voorberei het – net vir ‘n bietjie afwisseling van die allerdaagse skaaptjops.  Toe jy nog koue oorskiet-skaapvleis op jou toebroodjie geëet het, hoe daar meer vleis as sous in ‘n vleispastei was en toe vis pleks van “pink slime” die hoof protein-bron vir arm mense was.  Toe water in die riviere drinkbaar was en visse uit damme nie vol hormone en gifstowwe was nie.

Vir iedereen met ‘n lappie grond tot sy beskikking is daar egter allerlei opsies om te oorweeg wanneer dit by vleisproduksie kom.

Visteelt is vir meeste van ons nog ‘n nuutjie.  Dit is egter ‘n wonderlike manier om iets werklik nuttig met ‘n koidam te doen.  Pleks daarvan dat jy visse vir vertoon aanhou, kan jy netsowel daardie hulpbron van jou in ‘n spens omskep.  Natuurlik kan meeste mense wat hierdie artikel lees tans nog vleis bekostig en oorweeg meeste mense dit nog nie om hulle eie kos te produseer nie.  Maar akwaponika is een van die opwindenste en mees suksesvolle kosproduksie-sisteme wat mens in die stadstuin kan inrig en dis beter om nou te begin as om dit uit te stel tot dit te laat is.

‘n Stadstuin is ook uiters geskik vir hoenders – veral as hulle los in die tuin kan rondloop en kan skrop en die goggas in jou groentetuin kan opvreet.  Een van die slim maniere hoe jy hoenders en groentetuine kan laat saamwerk is om hoenders in ‘n beweegbare hok wat oop is onder van lappie grond na lappie grond in jou groetetuin te skuif.  Sodoende wis die hoenders elke dag ‘n nuwe lappie grond se goggas uit terwyl die stikstof van hulle mis as bemesting toegedien word.  Hoenders vorm gewoontes wat dit maklik maak om hulle te beheer.  Hulle sal bv. saans in ‘n hok gaan slaap en vreet waar jy hulle voer.  Henne sal spesifieke plekke in die tuin uitkies om hulle eiers te lê.  Ongelukkig is die koste van hoendervoer sekerlik die grootste struikelblok wanneer dit by die bekostigbaarheid van klein-skaalse hoenderboerdery kom.

Wêreldwyd word daar met varke geboer en in sekere lande soos Europa en die Ooste is dit die belangrikste bron van vleis.  Die voordeel van varke is dat hulle in klein areas aangehou kan word en ‘n verskeidenheid kosse, insluitende kombuisafval, kan eet.  Dit is ‘n algemene verskynsel om varke en eende of hoenders in die klein erfie agter ‘n huis in die Ooste te sien.  Natuurlik is hierdie nabye saamblyery van mense, varke en voëls die hoofrede hoekom daar soveel griepvirusse vanuit die Ooste kom – die griepvirus word heen en weer na vark, na voël, na mens oorgedra met die resultaat dat daar elke keer nuwe mutasies van die griepvirus voorkom.  Daarbenewens is dit onvermydelik dat daar talle ander parasiete en pestillensies van dier na mens en mens na dier oorgedra word.  Trouens, meeste van die groot siektes -soos masels, pokke en tering – wat honderde duisende mense van Eurasië oor duisende jare uitgewis het – was van varke en beeste afkomstig.

Uiteraard is daar munisipale regulasies wat mense verhoed om varke in hulle tuine aan te hou.  Elke munisipaliteit het sy eie regulasies en mens sal self die regulasies van die munisipaliteit waar jy bly moet gaan opsoek.  Die Pretoria-gebied se regulasies verskyn op: http://www.tshwane.gov.za/sites/business/Bylaws/Promulgated%20ByLaws%20Documents/ByLaw_KeepingAnimalsBirdsPoultry.pdf.  Volgens hierdie regulasies mag ‘n varkhok byvoorbeeld nie nader as 100 meter van enige grensdraad of gebou geleë wees nie.  Dit maak dit onmoontlik om ‘n varkhok in die stad of selfs meeste kleinhoewes aan te hou.  Hoenderhokke en haashokke mag in Pretoria egter so naby as 1 meter van die grensdraad en geboue af geleë wees terwyl dit in Nylstroom 5 meter van die grensdraad en gebou af moet wees.

Ongelukkig is dit nie waar mens se probleme eindig nie.  Daar is ook dikwels sonde met die bure wanneer die buurman eers kla, dan dreig en later jou by die polisie verkla omdat jou hoenderhaan hom wakker kraai.  Of ‘n buurman wat tereg (of dalk nie) kla oor die vlieë en brommers wat in die mis uitbroei.  En dan natuurlik jou bure wat jou daarvan beskuldig dat jy die oorsaak van die rotplaag in die gebied is want daar is die wesenlike probleem van rotte wat na die kosbakke en -stoorplek aangelok word.

Benewens hierdie werklike probleme en stoornisse is daar ook sosiale konvensies wat dinge vir mens kan bemoeilik.  Dink maar hoe jy sou reageer as jou bure ‘n bok vir ‘n godsdienstige feesmaal in hul tuin sou slag.  Maar dan sal hulle waarskynlik jou met net soveel walging aangluur wanneer jy ‘n vark in jou tuin slag en kort voor lank het jy enigiets vanaf die DBV, die polisie tot ‘n godsdienstige leier by jou voordeur.  In kort – jou lewe sal baie makliker wees as jy tussen vriende en familie bly.  Mense wat weet van jag, biltong sny en die plaas sal waarskynlik ook nie ‘n probleem daarmee hê as jy ‘n hoender se kop afkap nie.  Hoenders is by verre die mees aanvaarde lewenshawe in stede.  As jy die gekraaiery, vlieë en knaagdiere onder bedwang kan hou, kan jy vleis en eiers in die stad sonder te veel weerstand produseer.

Tot dusver is alles wat ek hier genoem het min-of-meer konvensioneel en min van onse mense sal ‘n probleem met vis of hoender op die tafel hê – veral as jy tussen dit en polonie moes kies.  Laat ons dan bietjie na soogdiere as vleisbron kyk.

‘n Marmot in ‘n restaurant in Peru

Kom ons gestel jy is eendag regtig regtig honger en jy is nou al moeg vir die souspasteie, mopaniewurms en listeriose-worsies en skaapvleis kos al R1000 ‘n kilogram (watwo sê die jonge wat nie weet dat skaapvleis 70c per kilogram in 1970 gekos het nie).  Haasvleis was deur ons voorsate vir duisende der duisende jare geëet voordat ons met skape begin boer het.  Dit is maklik om hase in ‘n klein area aan te hou en as jy ‘n groentetuin het is dit nie te duur om hulle te voer nie want hulle eet wortels, blare en skille.  Aangesien hase nog op verskeie plekke oorsee vir vleisproduksie benut word is daar op die internet baie inliging oor behuising, versorging en voeding beskikbaar.  Maar ‘n bietjie raad van my kant af: sorg maar dat jy nie die hase voor die bure slag nie.  D.w.s. as jy nie met die stadsraad, diereregte-aktiviste ens. te doen wil hê nie.  Dit is dan ook hier wat ons met die meeste konvensie-botsings te doen het, want sien ‘n vis is ‘n vis en ‘n voël ‘n voël, maar ‘n dier is mos ‘n ander ding.  Ons praat mos van vis en vlees as twee verskillende goed.  Om vis te vang is mos nie dieselfde as om ‘n skaap keel-af te sny nie.

En natuurlik hou ek die beste vir laaste.  Meeste van ons plaasdiere kom van Eurasië waar ons voorsate hulle vanuit wilde diere geteel het.  Dit is waar bokke, skape, beeste, varke, perde, donkies, hoenders, eende en ganse vandaan kom.  Die enigste ander kontinente waar diere gedomestiseer is die

Stinkgoggas (tongalifa) op ‘n kosmark in Venda

Amerikas waar die lamas, kalkoen, makou en marmot vandaan kom.  Ja liewe lesers – die marmot was deur die Inkas en Asteke en hulle voorsate as vleisbron geteel.  Marmotte is skoon (skoner as varke ten minste), hulle is maklik om aan te hou, hulle plant vinnig voort en hulle is streng vegetaries en eet hoofsaaklik gras.  Hulle kan egter nie self Vitamien C produseer nie maar dit is maklik om dit met vrugte aan te vul.  Mens kan hulle ook matige hoeveelhede brokkoli, kool, selery, spinasie en wortels as aanvulling gee. En as ‘n bonus mag jy in hierdie geval inderdaad met jou kos speel want hulle is maklik om te hanteer en hulle word selfs baie mak.

Ek het al baie gewonder: wat is dit met hierdie slak, mossel en paddaboudjie-etery van die oorsese mense?  Wie wil nou haaivin- en voëlnessie-sop eet?  En daarby eet miljoene Suid-Afrikaners mopaniewurms, stinkbesies (tongalifa), termiete en sprinkane!  Dan besef mens dat hongersnood die enigste rede hoekom mense hierdie vreemde kosse begin eet het.  Wanneer ek dan so oor die ineenstorting van die beskawing, kosproduksie en die ekologie peins dan lyk daardie marmot vir my al hoe lekkerder as die stinkgoggas hiernaas.

Dr. Francois Durand


Kom luister gratis na Dr Francois Durand se aanbieding tydens Sakeliga KragDag 2018 op Vrydag 10 Augustus tussen 11:00 en 12:00 in die Raadsaal op die KragDagterrein. Die titel van sy aanbieding is: “ Die eetbare tuin

5.00 avg. rating (92% score) - 1 vote