Deel die artikel met jou vriende:

Meneer Cyril Ramaphosa se aankondiging van die grendelstaat, waarvolgens ’n groot gedeelte van die land se bevolking in “huisarres” geplaas is, is deur die media in die algemeen, maar selfs deur organisasies wat gewoonlik nugter is oor die staat se onbevoegdheid, met amper liriese heldeverering begroet. Dit was ook die geval by baie van die publiek. Lof vir hom het woorde bevat soos “flink genadelose effektiwiteit”, “formidabele leier”, “deernisvol”, “sober, diep kundige”, “dapper besluit”, “geloofwaardige”, “indrukwekkende leierskap”, “majestueus” en “oorlog president”.

Hierdie reaksie is eienaardig. Dit is asof mense aan meneer Ramaphosa die vermoë toedig om met die haltroepende grendelstaat en gepaardgaande regulasies binne enkele weke, asof met ’n towerstokkie, ’n ultra effektiewe staatsmasjien te kan ontwikkel met die verwagting dat hy so die Suid-Afrikaanse samelewing se verlosser gaan wees. Dit terwyl staats- en semi-staatsinstellings oor die afgelope dekades, onder baie meer normale omstandighede as nou, nie eers in staat was om ’n eenrigting trajek na verval te vermy nie en beleggings- en ekonomievernietigende beleidsrigtings soos eiendomsonteiening, wat deur meneer Ramaphosa self op die tafel geplaas is, ’n verdere plunderende vooruitsig vir Suid-Afrika opstel.

Wat verder opvallend was in meneer Ramaphosa se toesprake, is die oënskynlike afwesigheid van ’n plan. Die indruk is dat hy bloot in navolging van die res van die wêreld, op die onmiddellike bedreiging reageer. Dit blyk dat feitlik glad nie rekening gehou is met die feit dat die kopiëring van die handeling van ontwikkelde lande vir Suid-Afrika (hier in selfs meer drakoniese omvang) ernstige reperkussies kan inhou nie. Daar is ook nooit by die aankondiging van die grendelstaat of enige tyd daarna bekend gemaak wat die kriteria vir die opheffing, of verslapping van die grendelstaat sou wees nie, of selfs net wat die kriteria vir die beoordeling is nie – mens kon nooit die indruk kry dat die scenario’s vir moontlike uitkomste behoorlik beredeneer is nie. Die verstommende (kinderagtige?) hantering van die alkohol en rook regulering tydens die grendeltyd het reeds ’n wenk gegee oor die diepte (dalk eerder oppervlakkigheid) waarmee hierdie diepsnydende besluit hanteer is. Dit alles teen die agtergrond dat die regering reeds voor die grendelstaat die werkloosheid sedert 1994 laat verdriedubbel het.

’n Mens sou van ’n regering wat sy mense respekteer verwag om in die openbaar alle inligting, analises en kundigheid te openbaar waarop hulle staatmaak om hulle besluite te neem. Nie net gebeur dit nie in Suid-Afrika nie, maar dit blyk dat die regering telkens sy burgers soos kinders, indien nie soos misdagers nie, hanteer.

Met die beperkte inligting wel tot ons beskikking kan daar sowat vyf moontlike scenarios geïdentifiseer word waarop die situasie in Suid-Afrika kan uitspeel. Let egter daarop dat scenario’s presies is wat dit sê, naamlik scenario’s en nie voorspellings nie en is dit natuurlik ook nie noodwendig die enigste moontlikhede nie.

Die scenario’s wat ons met die naamgewings hieronder onderskei, word voorts in meer besonderhede beskryf:

  • Scenario 1: Kry-dit-oor-en-verby (geen grendelstaat)
  • Scenario 2: Maak-die-kurwe-platter (grendelstaat om binne mediese kapasiteit te bly)
  • Scenario 3: Stop-die-virus (grendelstaatperiode wis virus uit)
  • Scenario 4: Déjà vu – Déjà vu (grendelstaat > kry virus onder beheer > grendelstaat opgehef > virus hervat > herhaal > herhaal …)
  • Scenario 5: Twee virusse en ’n terminaal sieke (Die slegste van alle wêrelde – ’n grendelstaat mislukking, ’n staat van permanente inperking op mense se vryhede en ’n in flarde ekonomie met Zimbabwe simptome)

Scenario 1: Kry-dit-oor-en-verby

Hierdie scenario veronderstel dat geen grendelstaat afgekondig word nie en dit bestaan dus vir voor-die-hand-liggende redes nou slegs as ’n historiese hipotese. Aangesien die scenario afgesien van praktiese uitkomste, ook prinsipieel filosofiese van al vier die ander scenario’s verskil, word dit steeds bespreek. Indien die huidige grendelstaat onmiddellik opgehef sou word, sou ook steeds sekere van die uitkomste van hierdie scenario gerealiseer kon word, maar dan sou sommige prominente figure met ’n rooi gesig sit oor die verspilde grendelstaatkoste vir die samelewing.

Alhoewel in hierdie scenario geen grendelstaat met regeringsdwang afgeforseer word nie, kan baie van die handelinge wat met die platter maak van die kurwe geassosieer word, steeds hiervan deel uitmaak, maar hier is dit geskoei op vrywilligheid, persoonlike verantwoordelikheid en -oordeel en respek vir elkeen se menswees (sonder om in naïwiteit te dink dat die strate heeltemal leeg gaan wees). Dit steun sterk daarop dat mense toegerus word met soveel moontlike inligting oor die Covid-19 virus en hoe die impak daarvan beperk kan word bv. deur aanmoediging van fisieke sosiale afstand en die self-isolering van mense wat deel uitmaak van risikogroepe.

Hierdie scenario maak nie net vrede met die verwagting dat die meerderheid van die bevolking die virus gaan opdoen nie, maar aanvaar dat kudde-immuniteit die beste uitkoms vir die pandemie is in afwesigheid van ’n entstof (wat nie binne agttien maande verwag word nie).

In hierdie scenario word die gesondheidsgevolge van die pandemie so vinnig as moontlik agter die rug gekry, terwyl die skade aan die res van die samelewing (wat insluit die ekonomie, lewensonderhoud en impak op ander mense se mediese versorging) tot die minimum beperk word en is die samelewing dus nie uitgelewer aan uitgerekte uitmergeling nie. Ongelukkig sou dit beteken dat daar op die korttermyn aansienlik meer sterftes sou wees (self ’n vroeë piekkurwe), as vir lande wat ’n grendelstaat aangegryp het. Die moontlike traumatiese belewenis weens gebrekkige kapasiteit aan mediese sorg, laat regerings oor die algemeen wegskram van hierdie opsie, al is dit geen uitgemaakte saak dat ’n platter kurwe deur grendelstaatingrype oor ’n langer (uitgerekte) duur minder virussterftes sal verseker nie.

Die Kry-dit-oor-en-verby scenario is die scenario met die mees voorspelbare (en waarskynlik mins skadelike) uitkoms – in al die ander scenario’s is die geheelprentjie uitkoms (en selfs lewensverlies) totaal onvoorspelbaar en kan dit vir die ekonomie, besighede en talle lewens katastrofies en self fataal wees. Die werklike omvang van die virus se mortaliteitsyfer is nog onbekend, maar op die heel ergste sou ons volgens ’n vroeë Chinese model ’n sterftesyfer van 351 000 op ’n infeksie van 40% van Suid-Afrika se bevolking (dit is 0,6% van die bevolking) kon verwag indien die grendelstaat ons nie ten laste gelê was nie. Natuurlik is dit baie menselewens, maar dit is waar die uiterste limiet van ons onsekerheid sou lê. Intussen blyk dit uit nuwer inligting reeds dat die noodlottigheidskoers waarskynlik ordes kleiner is. Onlangse syfers uit Italië dui ook daarop dat 99 persent van alle sterftes wat aan die virus verbind word vir mense was wat alreeds ’n ander siekte onder lede gehad het. Ten spyte hiervan het meneer Ramaphosa besluit om die grendelstaatperiode te verleng. Afgesien van Covid-19 sterftes vermy die Kry-dit-oor-en-verby scenario volledig die grendelstaat dobbelspel met die publiek se lewens, lewensonderhoud, ekonomiese depressie, onrus, magsvergrype deur soldate en polisie en hongersnood. Dit is insiggewend dat pryssangers van meneer Ramaphosa uit die geledere van News 24, nogtans meen kritiek teen hom as “oorlog president” vir bogenoemde dobbelspel as te ware taboe is. Een vir een is die aanvanklike refleksreaksie ondersteuningskoorlede egter besig om stadigaan meer gekwalifiseerde uitlatings te maak. Refleksreaksies het die geneigdheid om nie juis deur die beste rasionaliteit gekenmerk te wees nie. (As kantlyn opmerking laat die term “oorlog president” ’n wrangerige smaak in my mond – dit laat my te veel dink aan ’n politikus wat as staatshoof in luukse gemak, jongmense oorlog toe stuur met die boodskap “Dit is regtig hartseer dat baie van julle julle lewens sal moet opoffer, maar dit is ’n sware prys wat ek gewillig is om te betaal!”)

Daar is een land in Europa wat, ten spyte van groot verwyt van die res wêreld, die roete van die Kry-dit-oor-en-verby scenario gekies het en vir die oomblik nog daarby probeer vasstaan en dit is Swede. Hulle het geen grendelstaat en die polisie is feitlik onsigbaar, maar tog maak hulle groot erns met die platmaak van die kurwe. Hulle standpunt is dat mense self verantwoordelikheid moet neem en tog maak hulle, op ’n manier wat hulle respek toon vir hulle burgers en díe se vryheid, inligting oor die pandemie bekend, wat waarskynlik van hulle burgers van die ingeligste mense in die wêreld oor die pandemie maak. Ironies genoeg word hulle, al is hulle geheelprentjie uitkoms sekerder, beskuldig van ’n dobbelspel deur ander lande wat deur hulle grendelgreepregeerders ekonomies amper op hulle knieë gedwing is, terwyl laasgenoemde nie kan waag om hulle grendelstate behoorlik op te hef nie uit vrees dat hulle alles van vooraf sal moet deurgaan.

Scenario 2: Maak-die-kurwe-platter

By aanvang moet dit duidelik gemaak word dat grendelstaatingrype in hierdie scenario slegs ’n platter kurwe in die vooruitsig stel (die virusinfeksies en -sterftes word dus uitgerek oor ’n langer tyd) en dit kom dus nie neer op ’n vermindering in die totale getal infeksies en sterfgevalle nie. Anders gestel word met ’n grendelstaat die ekonomie tot luierspoed gerem om die spoed van ’n ding te vertraag wat in elk geval steeds gaan gebeur.

Die bedoeling van die maak-die-kurwe-platter benadering is om die opeenhoping van pasiënte wat die mediese vermoë van die land kan oorlaai, te vermy deur infeksies oor tyd uit te rek ten einde binne die land se kapasiteit tot mediese versorging te bly. Ongelukkig is ’n een-oplossing-vir-almal vanuit ‘n praktiese hoek nie noodwendig wys nie en al mag daar met enkelvoudige fokus op slegs die mediese kapasiteit ’n saak hiervoor vir welvarende lande aanvoer word, is daar belangrike ander faktore vir lande met armer bevolkings. Indien die staatsmediese-sorg in Suid-Afrika reeds so agteruitgegaan het dat sommige kritieke pasiënte, selfs voor korona, tot ’n week in die hospitaal se ongevalle ontvangs sit voordat hulle aandag geniet, hoekom sou ons die verwagting hê dat dit nou ewe skielik enigsins beter sou gaan. Is dit dan nie eerder beter om so vinnig moontlik hierdie trauma agter die rug te kry nie? Selfs in ag genome die grendelstaat het die Departement van Gesondheid blykbaar aangedui dat hulle eers die piek van die virus teen middel Augustus verwag. Gaan die grendelstaat dan in plek gehou word tot dan, of op watter stadium gaan oorgegee word?

Daar is ’n nou verband tussen die gesondheidsorg van ’n land en sy ekonomie. Dit wat Suid-Afrika nou in die ekonomie verloor gaan waarskynlik later voor betaal word in gesondheid, met laer lewensverwagting en minder fondse vir gesondheidsorg. Daar is skattings dat meneer Ramaphosa se grendelstaat Suid-Afrika sowat R13 biljoen rand per dag kos – dink net hoeveel lewens jy met R13 biljoen per dag kon red. Anders gestel – hierdie geld kan gesien word as ’n subsidie vir diegene wat as gevolg van Covid-19 in die hospitaal beland of daar sou beland het, terwyl die vermoë van talle ander verminder word om vir gesondheidsorg/hospitaalkostes of selfs kos en verblyf te betaal.

Daar is politici wat mense op sleeptou neem met stellings soos dat indien die grendelstaat slegs een lewe red was dit die moeite werd. Dit is egter ’n aandagsoekende werklikheidsvreemde standpunt wat nie verreken dat enige keuse ook die prysgee van iets anders impliseer nie. Tans word net die effek op die virusinfeksie statistiek in ag geneem, terwyl die effek en reperkussies van die maatreëls in reaksie daarop, op talle ander terreine en lewens oor die hoof gesien word. Om jou bes te doen om lewens te spaar is een ding, maar indien jou ingrype veroorsaak dat iemand anders as gevolg hiervan in die slag bly, kwalifiseer dit jou op die minste daarvoor om van strafbare manslag aangekla te word – maar ons weet almal dat politici weer rasionaliserend hiermee sal wegkom.

Addisioneel hiertoe kom die disproporsionele maatreëls wat vir Covid-19 ingestel is verdag of selfs skynheilig voor.

In ag genome dat tot op hede nog net 34 mense in Suid-Afrika aan Covid-19 oorlede is, sou mense goeie rede hê om te vra waarom hulle hulle werk moet opoffer en sommige selfs hongersnood in die gesig moet staar ter wille van die bekamping van die virus? Is dit aanvaarbaar dat selfs jou lewe geneem kan word – soos wat reeds die geval was met ten minste nege mense wat klaarblyklik aan die hand van polisie en die weermag gesterf het?

Waar trek ’n mens die streep?

Ons kan natuurlik verwag dat daar nog duisende mense (hoofsaaklik in ’n sekere risikoprofiel) aan die Covid-19 virus gaan sterwe, maar is dit belangriker om ’n lewe hierteen te beskerm as teen ’n ander sterfte-oorsaak? In vergelyking met ander sterftes is die aandeel van Covid-19 ’n druppel in die emmer. In Suid-Afrika word normaalweg amper 60 mense per dag vermoor, gaan 40 dood in motorongelukke en sterf sowat 190 mense aan Vigsverwante siektes, terwyl daar tans slegs ongeveer 1 persoon per dag van Covid-19 doodgaan.

Die skade van ’n grendelstaat buite rekening gelaat, is die ironie dat regerings daarmee (veral hier in die vroeë stadium) waarskynlik wel ’n enorme klomp lewens spaar, maar waarvan slegs ’n klein fraksie Covid-19 gevalle is. Dit is die gevolg daarvan dat ’n grendelstaat deur sy tot stilstand bring van die ekonomie ook die verspreiding van ander oordraagbare siektes (met ’n 5 miljoen jaarlikse sterftesyfer wêreldwyd) bekamp en dan is daar nog die positiewe effek op padongeluksterftes wat sowat R1,24 miljoen per jaar uitmaak. Sterftes deur Covid-19 maak tot op datum 125 000 of slegs 2% hiervan uit.

Daar is ook ’n ander insiggewende berekening wat gedoen kan word om die werklike impak van verskillende oorsake van sterftes te vergelyk en dit is om die verlies aan totale lewensjare van verskillende sterfteoorsake te bereken. In die grafiek hiernaas, wat ongelukkig net vir die VSA opgestel is, maar waarvan die beginsel net so waar is vir Suid-Afrika, kan gesien word dat teen ’n moontlike 240 000 sterftes in die VSA (tans staan dit op 30 000) daar ’n verlies sal wees van 2,9 miljoen lewensjare aan Covid-19, terwyl 409 miljoen lewensjare verloor word aan padongelukke (dus 140 keer meer as aan Covid-19). Op dieselfde syfers sou die sterfte-impak van gewone griep tien maal meer wees as as vir Covid-19. Hierdie berekening word gedoen deur die hoeveelheid verwagte lewensjare wat vir ’n slagoffer sou oor wees indien die teëspoed hom nie getref het nie, met die getal gevalle te vermenigvuldig (sien die volledige artikel hier).

As die regering konsekwent wou wees in sy aanspraak op absolute beskerming van lewens, dan behoort hy mense in die lig hiervan vir altyd in huisarres te plaas. Afgesien van die bekamping van verspreiding en beskerming teen dood deur oordraagbare siektes soos griep, TB en Vigs sou net die besparing van menselewens weens die vermindering van padongelukke dit die “moeite werd” maak – tydens verlede jaar se Paasnaweek alleen was daar in Suid-Afrika 162 sterftes (309 in 2018), teenoor die 3 Covid-19 sterftes tydens die pas afgelope Paasnaweek.

In my “geestesoor” hoor ek die beswaar van verskeie stemme wat sê “Moet nou nie belaglik raak nie!” Laat ek duidelik maak dat ek ook oortuig is van die belaglikheid, maar dit is waar die konsekwente toepassing, vir elkeen wat hierdie standpunt huldig, uitbring. Waar trek jy die streep? As die hele jaar te veel is om te sluk, wat van van nou af elke jaar een maand huisarres ter vermindering van sterftes?

Laat my toe om nog een spyker te kap in die doodskis van die beweerde erns van die regering met elke lewe. Net deur die eenvoudige ding te doen om aborsies te stop sou meneer Ramaphosa vanjaar 105 000 lewens kon spaar. In stede daarvan verkies hy om die uitvoer van aborsies tydens die grendelstaatperiode, bo die meeste ander beroepe, selfs tot essensiële diens te verhef.

Scenario 3: Stop-die-virus

Volgens hierdie scenario word die grendelstaat gebruik om die virus in geheel in die kiem te smoor. Die regering beweer dat die kurwe in Suid-Afrika reeds platter is vanaf 42% groei in daaglikse gevalle tot 4% sedert die grendelstaat ingestel is. Afgesien daarvan dat die indruk van sukses met die grendelstaat wat hiermee geskep word nie eerlik is nie, wek die feit dat meneer Ramaphosa ten spyte van die baie platter kurwe steeds ’n verlenging in die grendelstaat regverdig, ook die indruk dat ’n platter kurwe nie goed genoeg is nie, maar dat hy neig na ’n punt wat eerder ’n poging tot uitwissing van die virus is. Enige een met bietjie insig behoort te weet dat dit ’n praktiese onmoontlikheid is, tensy jy bereid om tot so lank as twee jaar die land in ’n grendelgreep te hou totdat die virus hom oor die hele wêreld uitgewoed het of ’n entstof ontwikkel is.

Scenario 4: Déjà vu – Déjà vu

In hierdie scenario word die virus (en die samelewing) met die grendelstaat versmoor tot op ’n vlak wat dit voorkom of die virusverspreiding onder beheer is. Weens ekonomiese- en gemeenskapsdruk word die grendelstaat dan opgehef, maar voordat ekonomiese aktiwiteite ’n vastrapplek kry (’n werksgeleentheid wat vernietig is, word nie oornag herstel nie) kry die virus weer nuwe momentum en veroorsaak ’n tweede uitbreekvlaag. Die regering is nou tussen twee vure – of hy laat ter wille van die ekonomiese druk die virus die keer begaan, maar meer waarskynlik gaan hy nie die rooi gesig wil hê om te erken dat sy vorige poging wat die land in ekonomiese chaos gelaat het, maar ten minste vir hom die aansien van die oorwinning oor die virus besorg het, nou as futiele skadeberokkende mislukking verklaar te word nie. Hy kies dus om weer die wurggreep in te stel tot die virus weer in toom is. En dan herhaal hierdie gebeure hom maar net elke keer weer totdat of die fut van die virus, of die fut van die regering teen druk uit die samelewing uit is.

 Scenario 5: Twee virusse en ’n terminaal sieke

Hierdie scenario is die slegste, maar op hierdie stadium die mees waarskynlike uitkoms van die Covid-19 verhaal. Dr Leandri Hattingh skryf in haar nugter en insiggewende artikel: “One has to ask whether we are not orchestrating the worst of outcomes on both sides of the scale: a collapsed economy because of a lockdown that is ineffective in containing the spread of the disease.”

Die Twee virusse en ’n terminaal sieke scenario bevat drie hoof elemente:

    • Virus nommer Een: Ten spyte van die regering se wurggreep, is hy in verskeie woonbuurte nooit werklik suksesvol om die grendelstaat af te dwing nie en volg die verspreiding van Covid-19 ’n effens vertraagde verspreidingstrajek, wat gaandeweg maar sy gewone verloop begin neem. Dit het die positiewe gevolg dat kudde-immuniteit uiteindelik tog behaal word soos in die Kry-dit-oor-en-verby scenario, maar hier word dit uitgerek oor baie meer maande. Dit geskied egter in ’n sosio-ekonomies versnipperde milieu en dit aksentueer die bitter duur mislukking van die regeringsmaatreëls. Hierdie situasie het al op die eerste dag van die grendelstaat in Suid-Afrika hom begin afspeel met tonele soos hierdie en hierdie, wat die logistieke onhaalbaarheid gedemonstreer het en wat soms ’n selfs groter opeenhoping veroorsaak en teelaarde vir die virus verskaf het as wat voor die grendelstaat bestaan het.
    • Die terminaal sieke: Die land se bevolking, waarvan die armstes die heel hardste ly, sit met die veraste (meer as net gebrande) pere van ’n verwoestende grendelstaat. Die ekonomie is in flarde en oorblyfsels is talle gevandaliseerde winkels, plundery en opstand (hier en hier), hongersnood vir baie en honderde duisende sterftes – volgens ’n berekening van Dawie Roodt, die ekonoom, kan ons as gevolg van hierdie maand se grendelstaat ’n lewensverlies van 300 000 mense oor die volgende 10 jaar verwag.
    • Virus nommer Twee: Die regering het die Kool-Aid van outoritêre beheer geproe en daaraan verslaaf geraak. Outoritêre beheer ly altyd tot polisie en militêre magsvergryp en brutaliteit. Die haglike oorblyfsel van die land word as rede aangevoer waarom noodsaaklike drastiese beleidsmaatreëls ingestel moet word en hoekom ’n meer gesentraliseerde en sterkman (oorlogspresident) benadering nodig is. Dink jou maar in wat hierdie “noodsaaklike drastiese stappe” gaan wees, wat dan spoed gaan vang: Druk “Zimbabwe” geld om die nuwe (en ou) skuld en maatskaplike programme te betaal; onteiening, want almal moet mos begrip daarvoor hê dat die arme darem ook ’n lewe moet kan maak en dit is mos nou selfsugtig as jy nie jou “baie” wil afstaan nie; ’n gepoogde nasionale gesondheid versekering al is dit hoe onbekostigbaar want hoe kan jy van die arme verwag om sonder die bydraes van die “rykes” gesondheidsorg te bekostig; meer staatsbeheer oor bankwese (dink staatsbank) want met die nood is dit belangrik om toegang te hê tot die geldbeursies; plundering van pensioenfondse, want hoe kan hierdie rykdom daar lê as daar mense besig is om dood te gaan. Van hierdie virus gaan ons baie moeiliker ontslae raak as van die eerste een.

In die keuse vir ’n grendelstaat, hoe goed ook al bedoel, is meneer Ramaphosa se keuse ook ’n opsetlike keuse vir ’n depressie, honger, onrus, lewensverlies en outoritêre sentrale beheer. Die geskiedenis sal hom egter onthou as die oorlogspresident en die lyke tydens sy ampstermyn nie vir hom toereken nie, net soos meneer Nelson Mandela nie onthou word vir sy talle bomslagoffers nie.

Waar die rakleefted van “apartheid” as verskoning vir die regering se mislukkings na 26 jaar afgesaag en selfs ’n verleentheid begin word, verskaf die virus nou ’n vars blaamverskuiwingsgeleentheid waarop die regering nog jare gaan kan ry. Dit is die taak van elkeen om nooit die regering te laat wegkom met die verskoning dat die haglike omstandighede waarin ons ons bevind of in die toekoms gaan bevind, die gevolg van korona is nie – natuurlik het die virus ’n invloed, maar die besluit oor hoe om dit te hanteer was meneer Ramaphosa s’n. Hierin kan ons gerus die (dapper) voorbeeld volg van mense soos Russell Lamberti, ’n ekonoom aan wie se insig ek baie waarde heg, in sy Twitter kommentaar. Ek kan nie help om te dink aan die woorde van senator Gracchus oor keiser Commodus in die film Gladiator nie “He will bring them death and they will love him for it.”

Ek sluit af met die opmerking dat dit my voorkeur sou wees om eerder oor die moreel-etiese beginsels met betrekking tot die grendelstaat te skryf, as oor die konsekwensiële beoordeling van verskillende scenario’s, aangesien eersgenoemde die oorheersende bepaler van ons insigte en lewensopvattings behoort te wees. DV kry ek met ’n volgende keer geleentheid hiervoor. Gesels intussen gerus saam deur die Comment funksie hieronder te gebruik of begin ‘n gesprek op KragDag se Forum.

4.00 avg. rating (80% score) - 10 votes