Deel die artikel met jou vriende:

Die storie gaan so…

‘n Professor by ‘n groot universiteit het aan ‘n aantal uitruilstudente, wat van reg oor die wêreld gekom het, klas gegee. Een besondere student het moeilik geloop en het gedurig sy rug gestrek asof hy ‘n rugprobleem gehad het. By navraag van die professor het die student vertel dat hy ‘n skietwond opgedoen het tydens ‘n geveg met sosialiste wat sy land se regering wou omverwerp. Onderwyl hy besig was om sy storie en sy land se storie aan die professor te vertel, het hy skielik sy vertelling onderbreek en gevra: Professor, weet u hoe om wildevarke te vang? Eers het die professor gedink dat hierdie vraag ‘n aanloop tot ‘n grap is, maar dit was nie – dit was ‘n ernstige waarskuwing!

Wildevarke, wat mense vermy en maklik ontwyk, is baie slim, merkwaardig vindingryk en het besondere goeie gehoor- en reuksintuie. Hulle is groot en sterk diere met gevaarlike slagtande wat blitsvinnig kan beweeg. Hulle is uiters gevaarlik en as hulle vasgekeer word, kan hulle ‘n mens maklik doodmaak deur so iemand met hulle slagtande oop te skeur. Daarby is hulle baie agterdogtig en vertrou nie somaar die vrede nie. Wanneer wildevarke gejag word, moet mens baie moeite doen om hierdie prooi te uitoorlê. Wildevarke kan baie skade aanrig deur oeste te vreet, gewasse te verniel en, omdat hulle omnivore is, byt hulle selfs lammers dood om te vreet.

Maar hoe vang jy ‘n wildevark – beter nog – hoe vang jy ‘n hele trop wildevarke? In die handel is meganiese wippe, fuike of valle beskikbaar, maar wildevark se kind is baie behoedsaam en versigtig vir vreemde metaalvoorwerpe wat in hulle omgewing geplaas word.  Daarom sal daar eerstens ‘n geskikte plek gesoek word waar daagliks vir hulle kos, soos mielies, ooskietkos, skille, lowwe en selfs bier in ‘n groot trog gegooi word. Die reuk van die kos sal mettertyd die varke aanlok om hierdie kos, wat vry en verniet is, te verorber. Sodra die wildevarke gekondisioneer is om elke dag vir hulle versnapering op te daag word ‘n stewig draadheining as ‘n eerste sy van ‘n kamp-omheining gespan. Aanvanklik bly hulle weg, maar gaandeweg raak hulle gewoond aan die draadheining. Die kos wat hulle so, sonder moeite verkry om te vreet, is darem ook nie te versmaai nie!

Sodra die wildevarke aan die eerste sy van die draadkamp gewoond is, word ‘n tweede en derde sy, en uiteindelik die vierde sy, wat ‘n valhek in het, opgerig. Die varke is noual so gewoond aan die gratis kos wat, soos hulle teen hierdie tyd dink, hulle eintlik toekom, dat hulle deur die valhek die draadkamp binnegaan. Op ‘n geskikte tyd, wanneer ‘n aantal varke in die kamp-omheinig is, val die valhek toe. Só word ‘n hele trop varke gevang en só verloor hulle hul vryheid. Teen hierdie tyd het die varke hulle vermoë om vir hulle eie kos te sorg verloor. So het díe varke verleer om te snuffel vir hulle truffel. Hulle het so daaraan gewoond geword dat hulle van kos voorsien word, dat hulle hul gevangenskap gelate aanvaar het! Hulle neem ook genoë daarmee dat met hulle gehandel word hoe ookal hulle gevangenemers mag besluit.

Is dit nie maar wat in ons samelewing aan’t gebeur is nie? Aan die een kant is ons bederf met dinge wat ons as vanselfsprekend en normaal beskou, maar wat ons nie kan bekostig om op te sê nie. Aan die ander kant is daar ‘n gedurige poging om vryhede, wat ons altyd as normaal beskou het, in te perk. Groot kapitalistiese en korporatiewe instellings verskaf aan ons wat ons daagliks nodig het. Ons is van hierdie instellings afhanklik vir ons inkomste in ons produktiewe jare. Verder word ons aftreëgeld ook by groot instellings belê om ons te versorg as ons nie meer kan werk nie. Elektriese krag is beskikbaar wanneer ons dit nodig het deur net ‘n skakelaar aan te sit. Ons dink nie oor ons gesondheid nie, want ons het versekering om mediese sorg geredelik by sulke instellings te kan verkry. Ons te-ete en te-drinke koop ons by die groot selfbedieningswinkels in kollosale inkopiesentrums in keurige verpakkings sonder om te dink waar daardie voedsel en drank vandaan kom. Dan is daar ook nog ‘n owerheid wat na ons omsien deur te voorsien in ons veiligheid, sosiale versorging, mediese dienste, onderwys, infrastuktuur en nog vele meer. En so kan ons aangaan. Maar op ‘n dag,  kom ons tot die besef dat ons deur ‘n stelsel gevange gehou word. Al word hierdie dienste duurder, swakker en minder- dit bly moeilik om jouself van die stelsel te speen. Uiteindelik is die draadkamp vir wildevarke voltooi as politieke partye, wat die meeste belowe, keer op keer aan bewind geplaas word, terwyl gewone mense wat maar net probeer om met harde werk hulleself te versorg en vir hulle ‘n toekoms te voorsien, uitgemergel word en gedurig aan die kortste end trek. Die valdeur van onteiening van alle besittings en ‘n verbod op ‘n eie waardestelsel en eie denke wag nog net om toe te val.

Is mense gedoem om net trogvarke te wees? Dit is dan ook die oogmerk van KragDag om met selfstandigheid, selfversorging en ‘n instelling van doen-jou-eie-ding om jou sinvol onafhanklik te maak van dit waarmee jy in ‘n draadkamp ingelok word en om daardie draadkamp waarin jy reeds vasgevang is, wat jou meedoënloos inperk, stuk vir stuk af te breek. Dit begin sodra mens ander moontlikhede vir jou geykte bestaan begin raaksien en dit vir jou interessant word. By KragDag soek ons oplossings wat ons instaat stel om selfstandig en eervol te lewe – sonder om afhanklik te wees van die giere en onvermoë van korporatiewe instellings en die staat. By KragDag word oplossings gesoek rondom die uitdagings van energie, water, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, die ekonomie, vervoer, konstruksie – kortom – dit wat ons totale lewensbestaan omvat. Uiteindelik word gepoog om ‘n kreatiewe lewensgesteldheid aan te moedig ten einde ondernemingsgees, entrepreneurskap en kreatiwiteit te laat floreer.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

4.62 avg. rating (92% score) - 21 votes