Deel die artikel met jou vriende:

Wanneer ons ‘n sonkragstelsel vereenvoudig tot op die been, is daar twee prominente elemente wat die sukses van enige stelsel bepaal – drywing (in die volksmond bekend as “krag”) en energie.

Drywing (“Krag”):

Alle elektriese toerusting het ’n drywingswaarde en dit word gewoonlik in Watt aangedui op die toestel self. Die waarde wys hoeveel “krag” benodig word om die toestel te kan gebruik.

Wanneer ons sonpanele aankoop of bestudeer, sien ons dan ook op dieselfde wyse hoe die drywingswaarde aangedui word op sonpanele soos byvoorbeeld ’n 250W paneel – die maksimum hoeveelheid drywing wat ’n paneel op ’n gegewe oomblik kan genereer.

Drywing word dus aangedui in W of kW.

Energie:

Dinge raak interessant wanneer die verbruik van die toestel of toerusting blootgestel of gekoppel word aan tyd. Met ander woorde, ons sit die warmwater silinder aan vir twee ure, of die sonpaneel genereer “krag” vir vyf ure. Ons kan dus sê dat wanneer ons die silinder aanskakel vir twee ure, ons wel 2kW vir twee ure lank gaan gebruik en dat daar dan 4kW-uur se energie verbruik is om die water te verhit. Die energieverbruik word dus as kW-uur of kWh (kilowatt hour) aangedui. Die munisipaliteite en Eskom verkoop energie aan klein verbruikers en in die geval van groter verbruikers verkoop hulle krag/drywing ook.

 

Kom ons hou die berekeninge eenvoudig ten einde die beginsels beter te verduidelik en vir die doel van hierdie artikel gaan ons suiwer fokus op kWh wat ons aankoop vir huishoudelike verbruik.

Afgesien van die 2kW kragverbruiksaanduiding op die inligtingsplaatjie van die warmwater silinder hiernaas, sien ons dan ook die waarde van 1,94kWh. Dit is die hoeveelheid energie wat in die silinder verlore gaan in ’n 24 uur siklus – dus amper 2kWh. Indien ons dan elektrisiteit aankoop teen ’n tarief van R1,60 per kWh, beteken dit dat ons R1,60/kWh X 2kWh verloor aan warmwater silinder verliese, met ander woorde R3,20 per 24 uur siklus (min of meer R100 per maand net aan verliese).

Ons kan dieselfde basiese berekening gebruik wanneer ons kyk na die drywing en energie waardes van die sonpaneel. Gestel die 250W sonpaneel word aan direkte sonlig blootgestel vir 5 ure, dan behoort ons stelsel 250W x 5ure = 1 250W-uur (1,25 kWh) te genereer. Aan die een kant het ons die energie verliese in kWh en aan die ander kant die generasie in kWh. Let op dat beide waardes in kWh verskyn. Sien beide kante as ’n weegskaal, met verliese aan die een kant en ons generator aan die ander kant. Die stelsel het nodig om gebalanseer te wees ten einde doeltreffend te funksioneer.

Daar is egter verskeie ander faktore wat in ag geneem moet word, wanneer ons ’n sonkraginstallasie oorweeg, byvoorbeeld:

  • Is dit ’n goeie idee om water te verhit met elektriese sonpanele?
  • Kan ons batterye by die stelsel voeg en hoeveel is genoeg?
  • Kan enige iemand ‘n elektriese sonkragstelsel installeer?
  • Wat sê die regulasie oor sonkrag?
  • Mag ek koppel aan die munisipaliteit en sal my meter agteruit draai?

* Hierdie artikel is ietwat aangepas, na die ontvang van een van die reaksies hieronder in die kommentaar.

——————————————

Die skrywer van hierdie artikel, Carel Ballack, is ook die aanbieder van die Sonkraginstallasiekursus wat Saterdag 10 Maart 2018 op die KragDag terrein aangebied word. Tydens die geleentheid gaan hy verskeie interessante toeligtings doen, soos hoeveel bruikbare sonlig ons het en vir hoe lank die son skyn in verskillende streke, asook waar ons die tipe inligting kan bekom. Hy gaan ook die gemelde vrae in die artikel beantwoord en uitbrei op talle ander sonkrag beginsels.

——————————————

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

2.60 avg. rating (57% score) - 5 votes